Liewe Blog,
Vanaand skryf ek om vir jou te sê:
"Ek wil my skoene uitskop en tussen die daisies dans."
Hoe doen ñ mens dit alles? Ons is mense in verskillende beroepe, groottes, vorms, kleure en scenarios. Soos ñ pakkie "jelly beans" of "liquorice all sorts".
Ek wil emosioneel raak as ek besef hoeveel voorregte ek vandag in my lewe het. Pragtige kinders, mees belangrik ñ eggenoot wat my bystaan en liefhet en finansieël bydra.
Maar dis nogsteeds moeilik. Die dae is so vol, die ure so min. Mamma-wees tyd is ingeperk teenoor al die ander verantwoordelikhede. Vrou-wees tyd. Tussen wasgoed, natgepiepsde kleuterklere, plastiekpoppe wat die vloere vol lê, tekkies vol sand en al die nuutste seuntjie giere... ja, "spinners" en "gadgets" en "games", huiswerk en vakansie wat nie werklik vakansies is nie, want kinders moet skoolgaan as mammas werk... tussen kos en sosiale media en navorsing en verslae en probeer onthou wanneer laas het ek met my eie ma gepraat... en het ek die melk in die yskas gebêre... wonder ek, ek wonder...
"Ek wil blomme pluk en die son op my gesig voel skyn".
... hoe? Hoe kry die mammas met drie of meer kinders dit reg? Die wat voltyds werk en pappa werk weer oorsee? Die wat enkelouers is? Hoe kry hul dit reg?
Stop.
"Ek wil die reëndruppels op my arms voel neerplons en met oorgawe hardloop".
Maak dit regtig saak? Maak dit saak as die pap spreekwoordelik op die vloer beland? Maak dit saak as ons soms ons koppe verloor? Maak dit regtig saak as jy môre daai sperdatum mis? As jou broek skielik nie meer wil vas nie? Jou nuwe sykouse ñ gat in het?
Ja. Ja, dit doen.
"Ek wil in die rondte tol".
Maar, nie genoeg nie. Dit maak nie genoeg saak nie.
Hoekom nie?
Dit dra geen ewigheidswaarde nie. Realiste mag dalk dink dis ñ idealistiese opmerking. Dalk is dit.
"Ek wil lag, en lag, en lag. En, nooit ophou nie."
Wat belangrik is, is nou. Die oomblik, die spesifieke sekond. Ek kan jou nóu vashou. Nóu troos. Nóu aanmoedig. Nóu liefhê. Nóu saam jou lag. Nóu na jou luister. Dis al wat tel. Liefde is altyd beskikbaar om uit te deel. Die hart het nie sperdatums nie. Ons moet ons sekondes reg benut. Realisties genoeg? Tog, doen ons dit nie, né?
"Ek wil op die sagte groen gras neerval en om en om en om rol tot ek onder kom en stop."
Liewe Blog, ek skryf net om vir jou te sê...
"Mag ek en elkeen wat hier lees die vreugde van kind wees altyd onthou en herontdek. Sodat ek en jý met die hart van ñ kind deur die lewe kan gaan."
♡TG♡
Elke oomblik is deel van iets wat jy nooit weer terug sal kry nie.
Teken in op:
Plasings (Atom)
Featured post
Nie goed genoeg nie!
Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit? Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...
-
Hoe om koeksoda en klapperolie as 'n diep reiniger op jou gesig te gebruik... ♡ Resep♡ bestanddele: 2 teelepels organiese ekstra-virg...