Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Sondag 26 Augustus 2018

Maanspore





Lees my nuutste blitsverhaal gratis hier:

Met sy spierwit, krullerige hare en pragtige, helder blou ogies lyk hy na ñ baie gelukkige klein outjie.Maar wil jy die regte, egte waarheid weet? Daniël Vorster is ñ baie siek outjie. 

Hy was maar net sewe jaar oud gewees toe hy gehoor het dat geen dokter waarna sy mamma en pappa hom vat hom sou kon gesond maak nie. Die siekte wat hy het is baie, baie raar. Dit beteken dat vreeslik min mense in die wêreld hierdie siekte kry. 

Daniël woon saam sy pappa en mamma in ñ pragtige huis langs die see. Agter hulle huis is ñ grasgroen woud met die mooiste, kleurvolle blomme, grootste bome en vriendelike diertjies wat daar woon.

In die donker nag bo hulle pragtige woning skitter die sterre soos gloeiende balle in die lig van die helderste maan.

Mamma het vir Daniël vertel dat hy binnekort by Jesus sal moet gaan woon. Daniël is nie bang nie, maar hy hoop dat Jesus vir hom eerder ñ plekkie op die maan sal gee. Hy is op sy gelukkigste as hy elke aand vir die maan kan kyk en hy weet maak nie saak waar hy woon nie, Jesus sal altyd by hom wees. Sy grootste droom is om eendag soos die eerste man op die maan, Neil Armstrong, voetspore op die vreemde planeet se silwer grond te trap. Daniël se Pappa het vir hom ñ groot, blink kamera gekoop om alles wat vir hom mooi is op aarde af te neem. Hy wens eerder hy kon die maan daarmee afneem. Miskien eendag.

Jare gaan verby waarin Daniël elke dag 'n mooi foto neem en hy is dankbaar vir sy tyd saam sy Pappa en Mamma. Hulle is so goed vir hom. Daniël mag nie mense om hom hê nie, dit kan hom vinnigvisieker sieker laat word, maar hy voel nooi alleen nie, want hy het ñ gelukkige lewe.

Op ñ dag toe Daniël tien jaar oud is neem Pappa en Mamma hom na die besige stad toe. Daniël se lyfie is nou moeg en hy het ekstra sorg by die hospitaal in die stad nodig. Dis die eerste keer in baie jare dat Daniël in die stad kom. Hy verkyk hom aan die mense. Hy kan nie verstaan hoekom soveel mense so ongelukkig lyk nie. Hy glimlag altyd al voel hy soms siek, maar mense in die stad... Dit lyk og iemand hul glimlagte gesteel het. Oral langs die pad is daar mense wat geld vra, honger kinders en tot mense wat sonder komberse in die strate lê en slaap. Daniël se hart is baie seer. Teen die tyd wat hulle huurmotor by die hospitaal stop stroom die trane teel Daniël se wange af. 

Waarom moet mense so ongelukkig lyk? Waarom moet kinders sonder huise wees en mense sonder kos en komberse in die strate woon? Daniël se Mamma probeer hom rustig maak, maar kan hom nie troos nie. Vir Daniël moet die wêreld dan mooi plek wees, net so mooi soos die maan.

Daniël se Mamma verduidelik vir hom dat nie alle mense dieselfde geskenk in die lewe kry nie en elke mens het ander voetspore om op hierdie aarde te trap. Mamma wou hê Daniël moes vergeet van ander se seer want hy moes begin voorberei vir sy eie reis na Jesus toe, maar Daniël kon nie ophou dink aan die mense wat verlore voetspore trap nie. Hy wou nie hê mense moet ongelukkig en alleen wees nie.

Daardie nag het Daniël vir God belowe dat wanneer hy doodgaan hy daar sal wees vir elke mens op aarde. 

Daardie nag is Daniël dood. God het Daniël se wens bewaarheid. God het vir hom ñ spesiale plekkie gegee om te woon op die maan. 

So as jy dalk vanaand wonder of daar ñ man in die maan woon... kyk net op. 

Jy sal vir klein Daniël sien glimlag vir elke liewe kind en mens op aarde sodat hulle nie ooit alleen is nie. As jy regtig mooi kyk sal jy die groot, blink kamera in sy hand sien waarmee hy die maan verken en agter hom ñ silwer ry voetspore...

Die storie van Daniël en sy Maan word opgedra aan elke liewe, gelukkige kindjie op aarde. Mag jy altyd weet hoe spesiaal jou drome en wense vir God is maak nie saak hoe onmoontlik dit klink nie en mag jy altyd weet jy is nooit, maar nooit alleen nie. Maak nie saak wie jy is, wat jy aantrek of waar jy woon nie, jy is deur God uitgekies om jou eie spesiale silwer spore te trap. 

~ TG

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...