geskryf deur Tersia Gouws
Hugo sit die mes tevrede neer. Dit is uiters bevredigend as hy iets kan sny, nog meer as die iets ñ vrou is. Wanneer hulle bietjie weerstand bied, geniet hy dit natuurlik die meeste. Hierdie een is besonders. Sy is beslis beter as die vorige een en miskien sy grootste beloning sover. Sy veg met alles in haar om hom te keer. Dit laat sy bloed bruis en wanneer die adrenalien inskop presteer hy op sy beste. "O, Paulene, jy gaan nie wegkom nie. Ek het jou in my greep, vir ewig", dink hy hardop. Sy vorige teiken het heeltemal te maklik toegegee, liggies gekreun van die pyn, maar hom laat begaan. Dit het naderhand vervelig geword om haar te pynig en hy het ook geweet dat sy nie ʼn woord sou rep na die tyd nie. Dis seker hoekom hy haar laat gaan het. Paulene is egter te veel van ʼn vegter, hy sal ʼn ander plan met haar moet maak as hy klaar is…
Paulene probeer ongemerk haar hande los wikkel. Die toue sny deur haar vel, maar dis niks, niks teenoor die pyn van die laaste paar dae nie. Sy sal stil te werk moet gaan. As hy haar hoor of selfs sien beweeg, is dit verby. Hugo Venter is genadeloos. Geld, mag, sjarme ... alles wat hy het tel in sy guns. As die wêreld maar net weet wie Hugo werklik is.
Hul paaie het gekruis by ñ gala aand vir die organisasie waar sy werk, Save our Women and Children, ironies. As fondsontwikkelaar word dit van haar verwag om verhoudinge te bou met hoë waarde individue. Die organisasie kan baat vind deur die publisiteit wat dit sal meebring en ook die donasies wat hierdie individue hartlik gee om ook hul deel terug te eis by die belastingman.
Min het sy geweet hoe duur die prys sou wees wat sy gaan betaal vir hierdie ontmoeting. Haar passie vir die organisasie spruit voort uit haar kinderdae. Haar laaste herinneringe van Adri, of te wel haar ma, is wankelende verhoudings met een man na die ander en natuurlik haar dood aan die hand van Cobus Roux, haar nuutste en laaste verhouding flater. Haar ma het nooit haar eie waarde raakgesien nie en veiligheid en aanvaarding gesoek by ander, ongelukkig vir haar, by die verkeerde tipe mans en ongelukkig ook tot nadeel van haar dogter.
Paulene Nel ken van swaarkry. ñ Lewe in die kinderhuis omdat niemand in die familie kans gesien het om ñ rebelse tienerdogter, veral een wie se ma so ñ lieflike reputasie het, in te neem nie. Nee, sy wens dit oor niemand en dis juis waarom sy besluit het sy wil organisasies help wat vroue ondersteun teen geweld en mishandeling.
Snaaks genoeg, sy kon blykbaar nie eers haarself daarteen beskerm nie.
Daar was geen agterdog by haar toe Hugo haar op die gala aand van sy besigheidskaartjie voorsien en uitnooi om ñ draai te kom maak Vrydag om die organisasie te bespreek. Dis immers haar werk en die rede waarom professionele persone soos Hugo uitgenooi is na die funksie toe.
Die Venter's is ñ welbekende, vooraanstaande gesin in die besigheidswêreld binne Gauteng.
Hulle familiebesigheid, Venco Ingelyf, is bekende belastingadviseurs en lewer gereeld hul bydra tot liefdadigheidsorganisasies, waarvan Save our Women and Children een is.
Dis seker nou al twee dae na hul ontmoeting Vrydag, sy is self nie seker nie, want na Hugo haar koffie aangebied het, kon sy werklik niks verder onthou nie. Sy het hier wakker geword met ñ brandende pyn, sy kon die snye aan haar lyf voel. Dit was aand, toe weer dag, toe weer aand en vandag, die ergste sover. Hy het homself op haar afgedwing, sy merk gelaat en met elke weerstand en geveg van haar kant af, het hy haar gedreig met die mes, haar vel in brandende hale gesny.
Sy hoor hoe sit Hugo die mes neer. "O, Paulene, jy gaan nie wegkom nie. Ek het jou in my greep, vir ewig."
Dis nou haar kans. Haar enigste kans om weg te kom.
Hugo staan nog met sy rug gedraai na haar waar hy met die mes besig is. Sy het al na soveel vroue se stories geluister by die rehabilitasiesentrum. Sy moet nou dink, daar is nie tyd nie, slegs een kans. Wat sal die beste manier wees om weg te kom? Haar hande is nou los. Op ñ manier het sy een van die lemmetjies waarmee hy haar vroeër teen die borste gesny het weggesteek terwyl hy besig was om homself seksueel op haar af te dwing. Sy is egter te swak om teen hom te veg. Haar liggaam is fisies afgetakel. Soveel getuienisse flits deur haar kop, Monica met die drankverslaafde verloofde, sy het op die ou einde iets in sy drankie gegooi wat die doodskoot gegee het, die prys wat sy moes betaal... ñ lewe in die tronk weg van haar kinders. Daar is versagting op haar vonnis gegee vir die jare se mishandeling wat sy moes deurmaak, maar versagting maak nie die skade minder nie. Tracey, die fyn meisie wat seksueel misbruik en verbaal afgetakel is, haar stiefbroer, die skuldige, het sy na jare se uithou gedood deur ñ naelvyl telkemale deur sy breë bors te steek. Geweld is nie ñ oplossing, maar wel ñ uitweg. ñ Geweer is natuurlik die beste uitweg, maar sy het nie toegang tot een nie. Haar handsak... daar is wel ñ gaspistool vir veiligheid in. Waar sou hy haar handsak gelos het? Sy moet nou mooi dink.
Moontlik nog in die sitkamer waar hul koffie gedrink het? Nee sy twyfel. Die huis waar hy woon, is op die familie se perseel, waar hul besigheid ook is. Daar sal ander voete, soos ñ huishoudster en chef in die enorme huis wees. Hy sou dit nie daar los nie. Heel moontlik het hy dit saamgebring hier na sy studeerkamer, waar hy haar martel vir die afgelope paar dae. Sy het tot die gevolgtrekking gekom dat die mure klankdig moet wees, want sy hoor geen geluide buite nie. Dis definitief sy studeerkamer want die vertrek is welig versier soos die sitkamer en as daar oproepe inkom plak hy haar mond toe met kleefplastiek en neem dit deur sy oorfone. Sy het gehoor dat hy aan sy persoonlike assistent, Welna, noem dat hy onwel voel en tuis gaan werk vir ñ paar dae. Sy ken vir Welna. Die stil, jong dame met die diep, bang bokkie-bruin oë. Paulene het al ñ paar keer saam haar gewerk vir fondsinsamelings saam met Venco Ingelyf. Dis haar enigste hoop. Sy kan haar foon in haar handsak kry of die kontak van sy foon af skakel, as sy hom net kan verdoof met haar pistool.
Wat as sy onsuksesvol is? Wat gaan hy met haar maak? Sy ril van vrees as sy daaraan dink.
Nou moet sy vinnig werk. Hy is nog besig om sy mes blink te vryf en dreigemente te uiter. Haar oë soek deur die vertrek, dis moeilik om nie te beweeg nie. Waar sal haar handsak wees?
Die badkamer is aangrensend tot die vertrek. Sy weet, want sy het al haarself natgemaak en hy het haar daaroor sleggesê en dit as rede gebruik om haar met die lem te sny waar dit die seerste maak. Daarna het hy haar wel toegelaat om badkamer toe te gaan onder sy wakende oog. Sy sal wag tot hy in die badkamer is, maar sy moet haar handsak eers vind. Sy hoop dit werk so uit.
Haar oog vang dit, die handsak op die stoel, oppad na die badkamer. Hy sit die mes neer. "Ek is reg vir jou, meisiekind. Jy gaan nie verder veg nie. Sodra ek klaar is in die badkamer, is dit jou beurt."
Dankie tog. Sy demp die sug van verligting. Nou moet sy wikkel. Hy maak die deur toe. Nog ñ voorsprong. Sy beweeg stadig, dis so seer, maar sag soos sy kan, tot by haar sak.
Die wapen, waar is dit? Haar oog vang dit, haar pistool lê op sy lessenaar. Daar is nie genoeg tyd nie. Sy haal die botteltjie Shower to Shower en haar naelvyltjie uit. Sy maak die handsak toe en gaan staan stilletjies langs die deur. Haar bene wankel, sy voel lam. Sy moet net deurdruk. Die toilet trek. Die deur se handsvatsel beweeg. In een beweging spuit sy die sprei in sy oë en slaan hom oor die kop met haar handsak met al die krag wat sy het. Terwyl hy sy oë vryf gryp sy die pistool op sy lessenaar en spyt hom tot hy snak na sy asem en op sy knieë neerval. Haar foon het langs die pistool gelê, maar dis af. Sy moet gou werk. Sy tree nader Hy probeer na haar bene gryp. Sy pluk die foon uit sy broeksak en gaan na sy onlangse oproepe.
Welna. Die foon lui. Dit voel soos ñ ewigheid. Antwoord net, dammit. "Hallo, mnr Venter." antwoord die sagte stem. "Welna, dis ek, Paulene van Save our Women and Children. Hy hou my gyselaar in sy studeerkamer, hy gaan my doodmaak, help my asb."
Welna word stil, dan antwoord sy driftig: "Hy gaan nie weer hiermee wegkom nie. Ek het té lank stilgebly. Ek stuur onmiddellik die sekuriteit en bel die polisie. Jy is op luidspreker, mnr Venter se pa is ook oppad."
Hugo struikel orent en gryp haar aan die keel, maar sy veg, skop en krap met alles in haar. Hulp gaan nou hier wees.
Dis nog nie die einde van Paulene Nel nie.