ñ Werksgeleentheid in die "beloofde land”, die antwoord op ons gebede. My man werk met ñ dankbare hart, maar die verlange raak swaar. Die visa is goedgekeur dat hy sy gesin kan saambring. Ek is ook ñ werk belowe deur die maatskappy. Soveel gebid. Die teks het telkemale na my toe gekom vanuit Jesaja 43.
“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis..."
Hierdie het ek duidelik as ‘n teken gesien dat God vir ons ‘n pad maak in die woestyn en alles nuut gaan maak. Daar staan egter later in die hoofstuk hoe die Here jou sal lei deur die woestyn terug na jou geboorteland. Hierdie gedeelte wou ek dalk doelbewus ignoreer?
Die laagste oomblik? My werkloosheid
Die belofte het nie gerealiseer nie. Ons spaargelde reeds uitgeput. Ons was op ‘n punt waar ons nie die volgende maand se huur ten volle kon bekostig nie. Die eienaars van die huurhuis was welgestelde mense wat ‘n sekuriteitsbesigheid besit. Die volgende dag klop ñ wag aan my deur en die vrou staan daar. Die huurgeld is reeds vier dae laat. Ek verduidelik in ‘n bewende stem ons was dringend Suid-Afrika toe, vir my pa se roudiens, het sopas teruggekom. Ek voel soos ‘n stoute kind. Sy vra soveel vrae. Kyk my met valkoë aan. Yskoud. My mure verbrokkel, ek vertel haar die hele storie. Sy sien die beperkte meubels, die opblaas matrasse, die hoop skottelgoed.
Sy vertel vir my hoe die "beloofde land" verskil van Suid-Afrika. Daar is geen plek vir middelklas, jy is of ryk of arm. Tog, uit ‘n baie koue ontmoeting, ervaar ek ‘n ander kant van haar.
Sy deel iets persoonlik met my, hoe haar eie kinderlewe geaffekteer is deur ‘n vennoot wat haar vader ingedoen het. Sy waarsku my om versigtig te wees. Ek word genooi om haar kantoor te besoek die volgende dag. Daai aand betaal ons die huur en bid vir ñ finansiële wonderwerk.
Die volgende dag drink ek koffie by haar kantoor, sy het iemand genooi wat in my bedryf werk, vra die dame om my te help werk soek. Ek gee my CV, maar dit lyk nie of daar hoop is nie.
Ons wonderwerk volg
Sy stel ons vry van die huurkontrak. Ons kan goedkoper verblyf soek. Tydens die laagste tyd in my lewe, toe ek skaam was vir my keuses en ook gebroke van verlies, het God vir my gewys, daar is vir my genade en vergifnis deur Hom. Daar is altyd ‘n uitweg, hoop en ‘n verwagting.
Ons vind ‘n twee slaapkamer woonstel in ‘n “estate” buite die dorp. Toe ons daar inry slaan dit my asem weg, die uitsig, asemrowend. Bosveld. Ek voel tuis. Ek ervaar vrede, verligting en dit voel vir my of ek nader aan God is.
Ek pas goed aan as ‘n tuisbly, alles-self-doen mamma. Dit hou my besig. Ek maak ‘n geldjie met aanlyn marknavorsing.
Geleenthede is baie beperk aangesien die “beloofde land” nie veel toelaat. Die kerk is ñ toevlug en ek vind twee engele daar. ‘n Tuisbly ma, kunstenaar en uitgetrede sosiale werker, en ‘n tandarts wat op daardie stadium ook nie kon werk nie as gevolg van haar visa. Tee drink, raad oor tuisteskepper wees en hoe om die randjies te rek, trek my deur. ‘n Ou skoolkennis woon naby, ons word vriendinne. Ons kry die geleentheid om vir die langnaweek saam my man kus toe te gaan, ’n nodige wegbreek.
Hierdie is maar ñ stukkie van my storie. Goed en sleg.
Dinge het nie uitgewerk vir ons gesin in die "beloofde land" soos beplan nie.
Dit was nie die regte tyd vir my en die kinders om te trek nie. Vandag wil ek egter sê God het ons so lief dat Hy altyd vir ons keuses gee. As ek gekies het om in Pretoria te bly, was ons finansieël in ‘n beter posisie, was ons gesin baie trauma gespaar, maar dan sou ons aanhou verlang na ‘n man en pappa wat ver is, hy sou alleen wees, en dan sou ek alleen die dood van my pa moes verwerk. Wat sou dit aan my gedoen het as ek in Suid-Afrika gebly het en alleen deur daai verlies moes gaan sonder my man se liefde en ondersteuning? God het my teen ‘n ander tipe seerkry beskerm.
Na soveel probleme wat daarna gevolg het, is ons terug Suid-Afrika toe. Sonder spaargeld, sonder werk. Net met hoop in ons harte.
Ek kan nou terugkyk en reflekteer
Ons het dit wat verby is, agter ons gesit. Mense wat ons te nagekom het vergewe. Mekaar vergewe vir swak keuses. Ek besef nou hierdie is ons beloofde land, waar God ons geplaas het. Ek lewe dag vir dag, blom waar ek geplant is. Ek laat elke sekonde tel.
Wanneer ek na antwoorde soek, moet ek my eie stem stilmaak en God se Woord volledig interpreteer, nie net die deel wat my pas nie. Ek vertrou Hom. As jy foute maak, glo in tweede kanse, want God se arms is altyd oop vir jou.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking