Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Sondag 19 November 2017

Swak, swakker, swakste...?

As jy swak is.

Ek is vandag hier om jou op te tel.

Nee, ek het ongelukkig nie superkragte nie. Ek is ook nie ñ engel nie.

Maar, ek is hier.

Terwyl ek hier is kan ek twee goed vir jou doen.

Ek kan vir jou hoop gee deur die boodskap wat ek vandag bring. Ek kan saam jou bid oor die uitdagings waarmee jy gekonfronteer word.

Die lewe is ñ morsige storie.

Ja, daar is baie mooi tye. Dit keer egter nie die realiteit van swaar tye nie.

Soms lyk jou omstandighede anders as wat God se beloftes lyk. Wat nou?

Jy word hartseer. Jy is kwaad. Jy verstaan glad nie.

Ek het al baie so gevoel. Kwesbaar. Kwaad vir God. Lief en kwaad gelyktydig, kan dit wees?

God het my egter baie geleer tydens my omstandighede. Jip, jy hoor reg... gedurende my moeilikste tye... was God my Leermeester.

As ek net alles kon kry wat ek wou hê in die lewe, ñ "quick fix" vir elke seerkry, vir elke probleem... wie sou ek vandag wees? Watter diepte sou my hart hê? Hoeveel begrip en deernis sou ek dan kon wys vir ander mense wat swak is?

Ons glo dalk dit is. Maar, ñ wonderwerk is nie altyd die antwoord nie.

In ons swakheid weerspieël daar soveel meer van God se sterkte en Sy krag deur ons.

Indien jy tans in ñ tydperk van seer is, ñ tydperk van worsteling en van twyfel... gaan lê jouself by Jesus se voete neer. Moenie aarsel nie. Hardloop in Sy arms in. Hul is wawyd oop om jou te ontvang. ñ Hemelse Pa se arms is altyd oop.

Dit lyk of voel dalk nie nou so nie, maar God se Beloftes is Waar en Ewig.

Lees asb. 2 Korintiërs 12.

Ek deel graag veral vers 9 met jou:

"1. Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het. 2.  Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3-4. Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat 'n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5. Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6. Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7. selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk."

{TG}






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...