Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Hoop vir 2018

Waar ons aan die begin van 2018 staan is meeste mense reeds vuur en vlam aan die gang met hul voorneme vir die nuwe jaar, ander bou voort op doelwitte waarmee hul lank reeds besig is. Daar is baie waarop ek wil voortbou en ook baie waarmee ek nuut wil begin. Tog, struikel ek al vir die eerste week van hierdie jaar met ʼn tema. Hoop.

Hoop is tog aansteeklik en selfs ook genesend lees ek een van vele artikels. Ek dink aan die mees positiewe mense wat ek ken, maar ek dink ook aan soveel mense wat nou, met die aanbreek van die nuwe jaar, met nuwe seer en uitdagings gekonfronteer word. Dit is my voorneme vir 2018: om vir daardie mense hoop te kan gee. ʼn Herlewing van hoop of selfs nuwe hoop. Waarom moet jy hoop hê vir die nuwe jaar?

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” - Jeremia 29:11

God is waarlik in beheer. Soms is dit moeilik om te verstaan waarom sekere dinge in ons lewens gebeur. Veral seerkry en verlies. Wanneer jy ʼn geliefde verloor of hulle sien seerkry is dit normaal om te vra hoe kan God dit toelaat. Ons is mense. Dit is deel van wie ons is. Ek onthou die oggend wat ek verneem het van my pa se afsterwe. Ek het daar gelê en ek was te leeg om te voel, te seer om te voel. Alhoewel ek hom elke dag mis kan ek getuig van die krag van genesing wat God in my bewerkstellig. Die herlewing van dankbaarheid wat in my lewe plaasvind. Ten spyte van die seer kan ek met rustigheid getuig – ek weet God is in beheer. Altyd.

Jou storie… is nog nie klaar nie. Die verhaal van jou lewe is dalk tans by ʼn antiklimaks of ʼn doodloopstraat. Troos jouself in die feit dat jou verhaal nog nie klaar is nie. Ons lewens het seisoene. Die goeie nuus van seisoene is dat elke seisoen tot ʼn einde kom. Dit kan nie heeljaar winter wees nie, ook nie heeljaar somer nie. Die probleme en seer waarmee jy tans gekonfronteer word, sal binnekort plek maak vir die nuwe seisoen in jou lewe. Vertrou God met ʼn positief hart. Jou tydperk om te blom is reeds oppad!

Die ewige lewe wag. Ons as mens is nie eers in staat om te verstaan hoe fantasties God se heerlikheid gaan wees nie. Enige iets wat nou vir ons pyn of seerkry veroorsaak gaan binnekort heeltemal vergete wees. Ons gaan God se glorie ervaar wanneer ons by Hom aansluit. Daar is soveel sekerheid in die wete dat die ewige lewe vir ons wag.

God het nie moed verloor nie. Ons moet ook nie.

God glo in jou want Hy ken jou volledig. Hy ken jou naam. Hy weet waar jy woon. Jy is vir Hom belangrik. Elke behoefte van jou hart, elke droom – dit ken Hy ook. Ja, dis waar God ken jou slegste eienskappe, maar moenie vergeet nie – Hy ken ook jou beste eienskappe.

Geliefde van die Vader. Dit is seker die grootste en mooiste rede om nie hoop te verloor nie – die wete dat God jou liefhet. Hy het Sy seun vir jou gegee. God is lief vir jou.

Ons gebede word gehoor. Ons is beslis nie alleen nie!

Moet nooit ophou bid nie. Maak jouself deur gebed en danksegging aan die Vader bekend. Ons is nooit alleen nie. Daar waarheen ons vandag of môre moet gaan, daar is God reeds teenwoordig.

Daar is ander wat ook soos jy voel. (Reik uit)

Dit klink dalk onsensitief of selfs onmoontlik, maar daar is ander mense wat ook ervaar wat jy tans ervaar of dit reeds ervaar het. Wees wakker vir ander se seer en gebrokenheid. Maak nuwe vriende wat soos jy voel. Reik uit na ander. Ons dra mekaar. Ons gee mekaar nuwe hoop.

Liewe vriend of vriendin, my wens vir jou is dat daar ʼn vlam van hoop in jou menswees sal skyn. Mag 2018 vir jou ʼn jaar vol nuwe moontlikhede wees. 



~ TG.

Maandag 06 April 2020

Wie sal jou dra?

Kan nie die trane keer nie. Keer op keer hierdie laaste paar dae soos vele ander Suid-Afrikaners.

Ek is ñ Mamma. Ek ken daai gevoel as die skool bel jy moet jou kind kom haal... maar nie vir so iets nie... niemand is voorbereid vir so iets nie... ek kan uit 'n ouerhart dink die pyn wat Hoërskool Driehoek se ouers deurgaan, ouers wat hul geliefde, kosbare kinders verloor het, ander wat biddend langs hul kinders se hospitaalbeddens staan. Broers en susters wat nie geweet het dis hul laaste "goodbye" daardie oggend nie. Kinders, maats se pyn en hartseer. Onderwysers wat ook hierdie kinders liefhet soos hul eie. Drome lê aan skerwe. Vrees, twyfel. En tog, niemand kan eintlik werklik verstaan nie.

Die laaste paar dae het ons wonderwerke beleef, dade van selfloosheid, groot skok en ook ongeloof. Wat opvallend is, is hoe ñ land se mense bymekaarkom om te bid, te bemoedig en te help. 

Ek voel dis belangrik dat ek dit vandag moet sê, dis so belangrik dat ons hierdie besef. Kom, ons dra mekaar. Kom, nié net in krisistye nie, sommer net altyd, deur goeie en slegte, minder goeie en meer slegte, minder slegte en meer goeie tye. Kom, ons los die oordeel, die slim probeer wees, die lelike woorde, kritiek en jaloesie. Kom, Suid-Afrika. Kom. 

Dit het so maklik geraak om te bespreek, te deel op sosiale media, te beskinder, sleg te sê, maar dit het vir ons so moeilik geraak om werklik te bid vir mekaar. Om op te daag. So moeilik geraak om mekaar te aanvaar, net soos ons is. Ek praat nie van krisistye nie, ek praat van elke liewe normale dag.

Wanneer daar ñ krisis is, sien ons dit, hoe ons mekaar dra. Die waarheid is, nie een van ons weet hoeveel dae, ure of selfs minute ons in hierdie lewe oor het nie. Tog, raak ons so vasgevang met onbenullighede, dit roof soveel tyd. Tyd wat ons nie het nie. Tyd wat ons vir die vyand as geskenk gee. Hoe gereeld dra ons, ons geliefdes? Met hoeveel erns dra ons mense wat ons skaars ken? Is liefde net ñ roetine? Nee. Bestaan liefde uit roetine uit? Ja. Duisende klein roetines. Een ding van roetine - jy is daar, doen wat jy moet en doen dit op tyd. Kan ons in die roetine kom om liefde daagliks uit te deel en te sê, hey, ek ken jou dalk nie, maar, asseblief kan ek jou dra?

Ek deel graag hierdie verhaal (oorspronklike skrywer onbekend).

Dis ñ bedrywige oggend in die dokter se kamers, toe die ou oom, so iewers in sy tagtigs, instap om steke te laat uithaal. 

Hy noem dat hy haastig is, hy het stiptelik 9 uur ñ afspraak. Die suster neem sy bloeddruk en laat hom sit, wetende dat die dokter seker eers oor ñ uur beskikbaar sal wees.

Die oom kyk onrustig op sy horlosie. Omrede sy nie dadelik nog ñ pasiënt moet help nie, besluit die suster om gou die oom se wond te evalueer.

Die wond lyk goed en die suster kry die nodige voorraad by die dokter om die steke uit te haal en die wond weer toe te maak. Terwyl sy die wond versorg knoop sy ñ gesprek met die oom aan. "Het meneer ñ ander doktersafspraak vanoggend dat meneer so haastig is?" "Nee,"' antwoord die oom, "ek eet elke oggend 9 uur ontbyt saam my vrou by die tehuis. Sy is al ñ hele paar jaar daar, sy het Alzheimers-siekte."

Soos hul klaarmaak, vra die suster vir hom of sy vrou sal omgee as hy vanoggend ñ bietjie laat is. Sy gesig verstrek van hartseer, antwoord hy: "Sy weet nie meer wie ek is nie. Sy het my meer as vyf jaar laas herken." Verbaas vra die suster, waarom hy dan nou bly gaan elke oggend, as sy nie eers weet wie hy is nie. Glimlaggend druk hy die suster se hand en antwoord: "Sy mag my dalk nie meer ken nie, maar ek weet steeds wie sy is."

Jy voel dalk vandag verlore, vasgevang in jou eie ek, of dat jy nie meer vir God ken nie, of dit is dalk dat jy Hom al jare terug vergeet het. Wees gerus, Hy weet nogsteeds wie jy is. Hy weet nogsteeds waarvoor Hy jou lewe beplan het. 

Kom ons los die onbenullighede. Kom ons gebruik die kosbare tyd om uit te vind waarvoor ons lewe en hoe ons ander kan dra.

Kom Suid-Afrika. Wees daar.

3 Februarie 2019
~TG.

Covid-19, wanneer slaap jy?

Ek kan nie slaap nie
Aand na aand...

Dit voel of die wêreld om my vergaan

Covid-19. Selfdood. Armoede. Geweld.

Pyn. Seer. Eensaamheid. Geld. Vrees.

Soveel mense bid

Daar kan net God wees
Net Hy kan genees.

Ek kan nie slaap nie

Here, wees met die wêreld vanaand.

Maak heel, vergewe, maak gesond;
Herstel.

U verbond is Ewig
Ons as mens te ledig.

Covid-19 jou slaap kan begin
God het reeds oorwin.

~ TG

Sondag 26 Augustus 2018

Maanspore





Lees my nuutste blitsverhaal gratis hier:

Met sy spierwit, krullerige hare en pragtige, helder blou ogies lyk hy na ñ baie gelukkige klein outjie.Maar wil jy die regte, egte waarheid weet? Daniël Vorster is ñ baie siek outjie. 

Hy was maar net sewe jaar oud gewees toe hy gehoor het dat geen dokter waarna sy mamma en pappa hom vat hom sou kon gesond maak nie. Die siekte wat hy het is baie, baie raar. Dit beteken dat vreeslik min mense in die wêreld hierdie siekte kry. 

Daniël woon saam sy pappa en mamma in ñ pragtige huis langs die see. Agter hulle huis is ñ grasgroen woud met die mooiste, kleurvolle blomme, grootste bome en vriendelike diertjies wat daar woon.

In die donker nag bo hulle pragtige woning skitter die sterre soos gloeiende balle in die lig van die helderste maan.

Mamma het vir Daniël vertel dat hy binnekort by Jesus sal moet gaan woon. Daniël is nie bang nie, maar hy hoop dat Jesus vir hom eerder ñ plekkie op die maan sal gee. Hy is op sy gelukkigste as hy elke aand vir die maan kan kyk en hy weet maak nie saak waar hy woon nie, Jesus sal altyd by hom wees. Sy grootste droom is om eendag soos die eerste man op die maan, Neil Armstrong, voetspore op die vreemde planeet se silwer grond te trap. Daniël se Pappa het vir hom ñ groot, blink kamera gekoop om alles wat vir hom mooi is op aarde af te neem. Hy wens eerder hy kon die maan daarmee afneem. Miskien eendag.

Jare gaan verby waarin Daniël elke dag 'n mooi foto neem en hy is dankbaar vir sy tyd saam sy Pappa en Mamma. Hulle is so goed vir hom. Daniël mag nie mense om hom hê nie, dit kan hom vinnigvisieker sieker laat word, maar hy voel nooi alleen nie, want hy het ñ gelukkige lewe.

Op ñ dag toe Daniël tien jaar oud is neem Pappa en Mamma hom na die besige stad toe. Daniël se lyfie is nou moeg en hy het ekstra sorg by die hospitaal in die stad nodig. Dis die eerste keer in baie jare dat Daniël in die stad kom. Hy verkyk hom aan die mense. Hy kan nie verstaan hoekom soveel mense so ongelukkig lyk nie. Hy glimlag altyd al voel hy soms siek, maar mense in die stad... Dit lyk og iemand hul glimlagte gesteel het. Oral langs die pad is daar mense wat geld vra, honger kinders en tot mense wat sonder komberse in die strate lê en slaap. Daniël se hart is baie seer. Teen die tyd wat hulle huurmotor by die hospitaal stop stroom die trane teel Daniël se wange af. 

Waarom moet mense so ongelukkig lyk? Waarom moet kinders sonder huise wees en mense sonder kos en komberse in die strate woon? Daniël se Mamma probeer hom rustig maak, maar kan hom nie troos nie. Vir Daniël moet die wêreld dan mooi plek wees, net so mooi soos die maan.

Daniël se Mamma verduidelik vir hom dat nie alle mense dieselfde geskenk in die lewe kry nie en elke mens het ander voetspore om op hierdie aarde te trap. Mamma wou hê Daniël moes vergeet van ander se seer want hy moes begin voorberei vir sy eie reis na Jesus toe, maar Daniël kon nie ophou dink aan die mense wat verlore voetspore trap nie. Hy wou nie hê mense moet ongelukkig en alleen wees nie.

Daardie nag het Daniël vir God belowe dat wanneer hy doodgaan hy daar sal wees vir elke mens op aarde. 

Daardie nag is Daniël dood. God het Daniël se wens bewaarheid. God het vir hom ñ spesiale plekkie gegee om te woon op die maan. 

So as jy dalk vanaand wonder of daar ñ man in die maan woon... kyk net op. 

Jy sal vir klein Daniël sien glimlag vir elke liewe kind en mens op aarde sodat hulle nie ooit alleen is nie. As jy regtig mooi kyk sal jy die groot, blink kamera in sy hand sien waarmee hy die maan verken en agter hom ñ silwer ry voetspore...

Die storie van Daniël en sy Maan word opgedra aan elke liewe, gelukkige kindjie op aarde. Mag jy altyd weet hoe spesiaal jou drome en wense vir God is maak nie saak hoe onmoontlik dit klink nie en mag jy altyd weet jy is nooit, maar nooit alleen nie. Maak nie saak wie jy is, wat jy aantrek of waar jy woon nie, jy is deur God uitgekies om jou eie spesiale silwer spore te trap. 

~ TG

Maandag 07 Mei 2018

Jou pantoffels kan iemand se drome bewaarheid! Make someones dreams come true with your slippers!

Is dit nie fantasties nie? Maak ñ verskil deur jou pantoffels te dra! What do you have to do to give hope to a sick child? It's that easy - wear your slippers! Isn't this amazing? National Slipper Day and the Reach for a Dream Foundation are selling a limited stock of slippers. You can show your support and help a child’s dream come true by purchasing a pair as well as wristbands at various stores countrywide. ##SLIPPER DAY IS ON 11 MAY 2018## R10 per wristband From any Pick n Pay, Wimpy or Reach For A Dream branch. Let us support children with life-threatening illnesses. Kom ons ondersteun kinders met lewensgevaarlike siektestoestande. P.S ** Free coffee from Wimpy on 11th May 2018
Read more here. Lees meer hier: https://reachforadream.org.za/campaigns/slippers-day/ Reach for a Dream is a registered non-profit organisation. Their NPO-number is: 004-109.

Sondag 06 Mei 2018

Gee jou hart... Give your heart

Die volgende paar weke gaan hierdie blog fokus op nie-winsgewende organisasies en hul impak.

Hoekom? Om hierdie dorp, stad, land, wêreld ñ beter plek te maak. Een tree op ń slag.

Ek daag jóú uit om een van hierdie organisasies te kies en in hulle te belê hetsy deur jou tyd, vaardighede of geld.

Onthou, elke sekonde tel. Spring weg!

The next few weeks this blog will focus on non-profit organisations.

Why? To make this world a better place. One step at a time.

I challenge you to choose one of these organisations and invest in them through your time, skills or money.

Remember, every second counts. Now is the time!

Dinsdag 13 Maart 2018

Die Ysterpot


Rustyd. Sinoniem hiermee is skryftyd.

As my gesin slaap kan ek skryf. Daar is soveel waaroor ek wil skryf, maar tyd is min en soos jul reeds weet - elke sekonde tel. Daar is nog iets wat sinoniem met rustyd is in ons huis. Storietyd.

Daarom kies ek vandag ñ storie as simbool vir ñ belangrike onderwerp. Een waarmee ek definitief self ook worstel.

Die ysterpot.

Ek lees vir my kinders 'n storie uit 'n ouerige afrikaanse storieboek. Die verhaal klink baie soos Jan en die boontjierank, maar met 'n "kinkel" in die kabel.

Jan se naam is Pieter en die boontjierank is 'n ysterpot. 

So het die einste Pieter sy ma se laaste koei verkoop in ruil vir die ysterpot wat met 'n fyn stemmetie gefluister het: "Koop my, koop my." Dadelik dink ek aan ons Eienaar, ons Vader. Ons het darem nie nodig om te sê "Koop my, koop my" soos die ysterpotjie nie, want Jesus het ons immers reeds vrygekoop aan die kruis. Tog, sal dit nie wonderlik wees as ons met dieselfde ywer en opgewondenheid van die ysterpot in die aangesig van ons Eienaar kan uitroep "Koop my, koop my" nie? Dit is belangrik om God met ywer te dien. Ander mense sien ons voorbeeld raak. Ons kinders veral. Onthou altyd wie kyk vir jou.

Die tweede les wat wat ek by hierdie ysterpot leer, is die les van geloof. Die moeder is ontnugter deur die onverantwoordelike, roekelose besluit wat haar seun geneem het. Dink net haar ongeloof en haar seerkry in hierdie desperate situasie… sy stuur haar seun weg met hulle laaste koei, dis al wat hulle het, maar sy vertrou hom. Hy sal die koei verkoop. Vanaand sal hulle iets hê om te eet. Haar seun kom terug sonder die koei met net ‘n leë ysterpot. Tog, ten spyte van sy naïewe besluit glo die seun daar is ‘n rede waarom hy die ysterpot se stem moes hoor. Al is sy ma se reaksie negatief doen Pieter tog wat die leë ysterpot sê en hy sit die pot op die vuur.

Die derde punt wat my fasineer van hierdie verhaal is die kontras tussen die regverdige en onregverdige. Dit is somtyds maklik om moed te verloor as ek sien hoe skurke soms wegkom met alles en onregverdige mense seerkry. Dit laat my dadelik aan God dink. Hy het vir ons ore gegee. Hoeveel te meer hoor hy ons nie altyd ook nie?

Die seun en sy ma is verskeie kere sonder hul mede wete beroof deur ‘n ryk man wat op die heuwel woon. Alhoewel Pieter en sy ma vir die ryk man gewerk het, het die man hul nogsteeds skelm van hul koeie beroof.

Die huppelende, jubelende pot spring tot by die skuur van die ryk man en kom terug gevul met koring.

Meeste van die tyd huppel, jubel en spring on sook vir Jesus. Tog, bring ons nie vol potte terug na die Meester toe nie. Wie kan ek en jy hierdie week in liefde dien? Vir wie kan ons uitdeel uit ons oorvol potte uit?

Dan kom die laaste opvallende punt in hierdie verhaal, een wat dui op rekenskap en wat ook daarop dui dat slegte gebeure of tye nie vir ewig is nie.

 Die skelm, ryk man betrap die pot wat sy geld gevat het. Die man steek sy hand in die pot om sy geld uit te kry, dan sy kop en dan sommer op die ou einde sy hele lyf. Die deksel van die pot klap toe en daar trek die pot. Die pot huppel, jubel en spring tot by die einde van die wêreld. Niemand het ooit weer Pieter en sy ma se goed gesteel nie.

 

Te goed om waar te wees? Seker. Maar, soos hierdie storie, het elke hoofstuk in ons lewens ‘n begin, ‘n einde en ook ‘n les om te leer.

Kan ons elkeen nie maar so ‘n bietjie meer soos ‘n ysterpot wees nie?

~ TG.

Oorspronklik geskryf vir:
https://voelgoed.co.za/die-ysterpot/

Vrydag 09 Maart 2018

Hou moed... ek wil, ek kan, ek sal, ek hét!!!

Somtyds voel dit vir my of die wêreld om my skielik inmekaar sak.

 Dis so maklik om negatief te word. Om negatiewe dinge te sê. Om gedrewe te wees deur emosie.

 Dis egter juis midde in ons swakheid dat ons sterk is.

Sterker as wat ons ooit sal besef.
Hou moed.

Maandag 25 Desember 2017

Kersfeeswense

Die voorreg om vandag elke sekonde saam familie te spandeer. Heerllik te lag en te eet. Dit raak so diep aan my hart. Gisteraand het ons elkeen gesê waarvoor ons dankbaar is en ñ liggie gebrand vir elkeen wat elders is of reeds vertrek het na die Ewige Tuiste.

2017 was ñ jaar vir die Dankbare Hart. Dankie Koning van my Hart vir alles. Die waardevolle lesse, die ou herinneringe, die nuwe vreugdes, die deurbrake en selfs ook die teleurstellings.

Honderde babas was al gebore, gebore om eendag Konings te word. U, Liewe Heer, was ñ Koningin, eerste, wat gekies het om Gebore te word en ook te Sterf om ons te kan red.

Ek is lief vir u met al die mooi in my, met al die lelik in my, met al my vreugdes en smarte. Met my hele menswees. Net soos ek is. Maar, ek sal altyd strewe om meer soos U te wees.

Geseënde Geboortedag Liefste Jesus.

My strewe vir 2018 is om meer soos U te wees en minder soos ek. Voorspoedige 2018!!!

{Tersia Gouws}

Sondag 19 November 2017

Swak, swakker, swakste...?

As jy swak is.

Ek is vandag hier om jou op te tel.

Nee, ek het ongelukkig nie superkragte nie. Ek is ook nie ñ engel nie.

Maar, ek is hier.

Terwyl ek hier is kan ek twee goed vir jou doen.

Ek kan vir jou hoop gee deur die boodskap wat ek vandag bring. Ek kan saam jou bid oor die uitdagings waarmee jy gekonfronteer word.

Die lewe is ñ morsige storie.

Ja, daar is baie mooi tye. Dit keer egter nie die realiteit van swaar tye nie.

Soms lyk jou omstandighede anders as wat God se beloftes lyk. Wat nou?

Jy word hartseer. Jy is kwaad. Jy verstaan glad nie.

Ek het al baie so gevoel. Kwesbaar. Kwaad vir God. Lief en kwaad gelyktydig, kan dit wees?

God het my egter baie geleer tydens my omstandighede. Jip, jy hoor reg... gedurende my moeilikste tye... was God my Leermeester.

As ek net alles kon kry wat ek wou hê in die lewe, ñ "quick fix" vir elke seerkry, vir elke probleem... wie sou ek vandag wees? Watter diepte sou my hart hê? Hoeveel begrip en deernis sou ek dan kon wys vir ander mense wat swak is?

Ons glo dalk dit is. Maar, ñ wonderwerk is nie altyd die antwoord nie.

In ons swakheid weerspieël daar soveel meer van God se sterkte en Sy krag deur ons.

Indien jy tans in ñ tydperk van seer is, ñ tydperk van worsteling en van twyfel... gaan lê jouself by Jesus se voete neer. Moenie aarsel nie. Hardloop in Sy arms in. Hul is wawyd oop om jou te ontvang. ñ Hemelse Pa se arms is altyd oop.

Dit lyk of voel dalk nie nou so nie, maar God se Beloftes is Waar en Ewig.

Lees asb. 2 Korintiërs 12.

Ek deel graag veral vers 9 met jou:

"1. Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het. 2.  Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3-4. Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat 'n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5. Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6. Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7. selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk."

{TG}






Saterdag 18 November 2017

Saai woorde vol liefde...

Ek kyk na ñ heruitsending van die Jurassic Park: Lost World film. Ek trap Steven Spielberg saggies uit in my gedagtes (goed, miskien hardop ook so een of twee keer). Tog hou ek nié op kyk nie. Die nuuskierigheid was seker groter as die vrees. Elke keer as mnr. of mev. "T-Rex" hul tande in ñ menselyf inslaan krul ek op soos ñ bang klein dogtertjie. Die koppe waai letterlik. Dis ñ brutale affêre.

Maar "T-Rex" is nie alleen skuldig nie. Eet ek nie baie kere ook mense op met my woorde nie? Laat my woorde nie ook soms soos "T-Rex" die koppe waai nie? Ek is baie seker dat ek al groot happe uit naastes se menswees gevat het wanneer ek nie mooi besin het oor my woorde nie.

Alhoewel dit waar is en ek natuurlik spyt voel oor die groot happe, besef ek ook, dat my tong wel 'n pragtige deel van my menslike anatomie is. Jy sien daardie eindste tong oefen ook om voortdurend opbouende woorde te saai. Woorde wat oes sal lewer in mense se lewens.

Iemand het eens gesê dat ondeurdenkte woorde twis veroorsaak, wrede woorde lewens uitmekaar kan ruk, tydige woorde spanning kan verminder, maar die "ultimate" dat ñ liefdevolle woord sal genees en seën.

Ek wil myself en ook vir jou vandag uitdaag. Laat die liefdevolle woorde vol vanuit jou hart vloei. Vandag is hier. Vandag sal nooit wéér kom nie. Wees vandag ñ seën vir iemand deur jou woorde.

Ephesians 4:29 - "Do not let any unwholesome talk come out of your mouths, but only what is helpful for building others up according to their needs, that it may benefit those who listen."

TG.








Donderdag 05 Oktober 2017

Kyk verby die "wie" en "wat". Fokus op die "hoekom".


Ons raak meestal so vasgevang in die dag se gebeure en roetine dat ons dikwels nie die tyd neem om te dink en te reflekteer nie.


Dit is dalk vir ons belangrik on te vra "wat" ons doen, maar nie so belangrik soos om te vra "hoekom" ons dit doen nie.

As jy weet hoekom het jy rede om op te staan, rede om aan te gaan, rede om deur te druk. 

As jy weet waarom jy doen wat jy doen, Dan weet jy presies waar jou passie gesetel is.

Waarom doen jy wat jy doen? Is dit omdat jy ñ passie het vir mense? ñ Toekoms will bou vir jou kinders? Mense will bewusmaak van ñ probleem?
Die vreugde is nie geanker in die "wat" jy doen nie (jy kan ñ tuisteskepper, skoonmaker, onderwyser, prokureur wees)... dit dra geen waarde. Dit dra eers waarde wanneer jy jouself vra "hoekom" doen ek dit?
ñ Duidelike "hoekom" gee jou rigting in jou lewe en in jou werk in alles wat jy doen.
Wat is jou "hoekom"? Ons elkeen s'n verskil.

Dinsdag 11 Julie 2017

Liewe Blog.."Ek wil my skoene uitskop en tussen die daisies dans."

Liewe Blog,

Vanaand skryf ek om vir jou te sê:

"Ek wil my skoene uitskop en tussen die daisies dans."

Hoe doen ñ mens dit alles? Ons is mense in verskillende beroepe, groottes, vorms, kleure en scenarios. Soos ñ pakkie "jelly beans" of "liquorice all sorts".

Ek wil emosioneel raak as ek besef hoeveel voorregte ek vandag in my lewe het. Pragtige kinders, mees belangrik ñ eggenoot wat my bystaan en liefhet en finansieël bydra.

Maar dis nogsteeds moeilik. Die dae is so vol, die ure so min. Mamma-wees tyd is ingeperk teenoor al die ander verantwoordelikhede. Vrou-wees tyd. Tussen wasgoed, natgepiepsde kleuterklere, plastiekpoppe wat die vloere vol lê, tekkies vol sand en al die nuutste seuntjie giere... ja, "spinners" en "gadgets" en "games", huiswerk en vakansie wat nie werklik vakansies is nie, want kinders moet skoolgaan as mammas werk... tussen kos en sosiale media en navorsing en verslae en probeer onthou wanneer laas het ek met my eie ma gepraat... en het ek die melk in die yskas gebêre... wonder ek, ek wonder...

"Ek wil blomme pluk en die son op my gesig voel skyn".

... hoe? Hoe kry die mammas met drie of meer kinders dit reg? Die wat voltyds werk en pappa werk weer oorsee? Die wat enkelouers is? Hoe kry hul dit reg?

Stop.

"Ek wil die reëndruppels op my arms voel neerplons en met oorgawe hardloop".

Maak dit regtig saak? Maak dit saak as die pap spreekwoordelik op die vloer beland? Maak dit saak as ons soms ons koppe verloor? Maak dit regtig saak as jy môre daai sperdatum mis? As jou broek skielik nie meer wil vas nie? Jou nuwe sykouse ñ gat in het?

Ja. Ja, dit doen.

"Ek wil in die rondte tol".

Maar, nie genoeg nie. Dit maak nie genoeg saak nie.

Hoekom nie?

Dit dra geen ewigheidswaarde nie. Realiste mag dalk dink dis ñ idealistiese opmerking. Dalk is dit.

"Ek wil lag, en lag, en lag. En, nooit ophou nie."

Wat belangrik is, is nou. Die oomblik, die spesifieke sekond. Ek kan jou nóu vashou. Nóu troos. Nóu aanmoedig. Nóu liefhê. Nóu saam jou lag. Nóu na jou luister. Dis al wat tel. Liefde is altyd beskikbaar om uit te deel. Die hart het nie sperdatums nie. Ons moet ons sekondes reg benut. Realisties genoeg? Tog, doen ons dit nie, né?

"Ek wil op die sagte groen gras neerval en om en om en om rol tot ek onder kom en stop."

Liewe Blog, ek skryf net om vir jou te sê...

"Mag ek en elkeen wat hier lees die vreugde van kind wees altyd onthou en herontdek. Sodat ek en jý met die hart van ñ kind deur die lewe kan gaan."

♡TG♡

Vrydag 31 Maart 2017

Vernuwe jou lewe. Nóú.

Uit met die oud. In met die nuwe.

Welkom by die nuwe voorkoms van my skribbelblad.

Ek het lanklaas my hart en siel op my blog vasgevang.

Maar, vanaand maak ek tyd. Ek wil graag iets waardevols met jou deel.

Hierdie was ñ bonatuurlike goeie week.

Ek het so baie geleer.

1. Laat gaan, laat God (sjoe dis nie maklik gewees nie)

2. Daar is altyd hoop.Tot wanneer jy voel daar is nie.

3. Dank God vir jou blessings klein en groot. Pas hulle op. Maar,

4. Gee - gee soveel wat jy kan...

Wat gee jy? Wát ookal jy het (of nie het nie).

Soveel dinge gebeur, en ek weet dis nié ons goeie werk nie, ons is net instrumente.

My gebed vir jou vir vernuwing is dat jy jou hart vry sal stel sal toelaat om te laat gaan van seerkry, van bekommernisse. Meer belangrik dat jy sal weet God sien die hele prent, jy sien net die huidige bladsy.

Hoe meer ons dankbaarheid wys en uitspreek hoe meer leer ons van dankbaar wees.

God beplan vir jou voorspoed. Sien dit, glo dit en dank hom daarvoor. Jy sal eendag die hele prent sien.

♡TG♡


Woensdag 01 Februarie 2017

Reuke van ñ merkwaardige man

Wat het jou neus met liefde te doen?

As jy iemand lief het ruik jy hulle tot in jou menswees.

Die reuk van ryp mango vrugte, bring my terug tot by Pa. Mes in die hand, moet ek regtig vir jou ook een skil? Goed, maar die tweede een skil jy self.Die soet reuk van ringetjies tjips...  herinneringe aan kos karretjies en kiosks lank terug.Die aanloklike aroma van biltong met ñ vetjie, of anders daarsonder, hoe mens dit met valstande moet eet, kan jy net wonder.Uie, knoffel ... gemeng met Black Label. Niemand wil té naby kom, nie eens die duiwel. Die geur van sonneblomme, vars gepluk langs die pad. Dit is alles die reuke van ñ merkwaardige man. My Pa.

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...