Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Hoop vir 2018

Waar ons aan die begin van 2018 staan is meeste mense reeds vuur en vlam aan die gang met hul voorneme vir die nuwe jaar, ander bou voort op doelwitte waarmee hul lank reeds besig is. Daar is baie waarop ek wil voortbou en ook baie waarmee ek nuut wil begin. Tog, struikel ek al vir die eerste week van hierdie jaar met ʼn tema. Hoop.

Hoop is tog aansteeklik en selfs ook genesend lees ek een van vele artikels. Ek dink aan die mees positiewe mense wat ek ken, maar ek dink ook aan soveel mense wat nou, met die aanbreek van die nuwe jaar, met nuwe seer en uitdagings gekonfronteer word. Dit is my voorneme vir 2018: om vir daardie mense hoop te kan gee. ʼn Herlewing van hoop of selfs nuwe hoop. Waarom moet jy hoop hê vir die nuwe jaar?

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” - Jeremia 29:11

God is waarlik in beheer. Soms is dit moeilik om te verstaan waarom sekere dinge in ons lewens gebeur. Veral seerkry en verlies. Wanneer jy ʼn geliefde verloor of hulle sien seerkry is dit normaal om te vra hoe kan God dit toelaat. Ons is mense. Dit is deel van wie ons is. Ek onthou die oggend wat ek verneem het van my pa se afsterwe. Ek het daar gelê en ek was te leeg om te voel, te seer om te voel. Alhoewel ek hom elke dag mis kan ek getuig van die krag van genesing wat God in my bewerkstellig. Die herlewing van dankbaarheid wat in my lewe plaasvind. Ten spyte van die seer kan ek met rustigheid getuig – ek weet God is in beheer. Altyd.

Jou storie… is nog nie klaar nie. Die verhaal van jou lewe is dalk tans by ʼn antiklimaks of ʼn doodloopstraat. Troos jouself in die feit dat jou verhaal nog nie klaar is nie. Ons lewens het seisoene. Die goeie nuus van seisoene is dat elke seisoen tot ʼn einde kom. Dit kan nie heeljaar winter wees nie, ook nie heeljaar somer nie. Die probleme en seer waarmee jy tans gekonfronteer word, sal binnekort plek maak vir die nuwe seisoen in jou lewe. Vertrou God met ʼn positief hart. Jou tydperk om te blom is reeds oppad!

Die ewige lewe wag. Ons as mens is nie eers in staat om te verstaan hoe fantasties God se heerlikheid gaan wees nie. Enige iets wat nou vir ons pyn of seerkry veroorsaak gaan binnekort heeltemal vergete wees. Ons gaan God se glorie ervaar wanneer ons by Hom aansluit. Daar is soveel sekerheid in die wete dat die ewige lewe vir ons wag.

God het nie moed verloor nie. Ons moet ook nie.

God glo in jou want Hy ken jou volledig. Hy ken jou naam. Hy weet waar jy woon. Jy is vir Hom belangrik. Elke behoefte van jou hart, elke droom – dit ken Hy ook. Ja, dis waar God ken jou slegste eienskappe, maar moenie vergeet nie – Hy ken ook jou beste eienskappe.

Geliefde van die Vader. Dit is seker die grootste en mooiste rede om nie hoop te verloor nie – die wete dat God jou liefhet. Hy het Sy seun vir jou gegee. God is lief vir jou.

Ons gebede word gehoor. Ons is beslis nie alleen nie!

Moet nooit ophou bid nie. Maak jouself deur gebed en danksegging aan die Vader bekend. Ons is nooit alleen nie. Daar waarheen ons vandag of môre moet gaan, daar is God reeds teenwoordig.

Daar is ander wat ook soos jy voel. (Reik uit)

Dit klink dalk onsensitief of selfs onmoontlik, maar daar is ander mense wat ook ervaar wat jy tans ervaar of dit reeds ervaar het. Wees wakker vir ander se seer en gebrokenheid. Maak nuwe vriende wat soos jy voel. Reik uit na ander. Ons dra mekaar. Ons gee mekaar nuwe hoop.

Liewe vriend of vriendin, my wens vir jou is dat daar ʼn vlam van hoop in jou menswees sal skyn. Mag 2018 vir jou ʼn jaar vol nuwe moontlikhede wees. 



~ TG.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...