Kan nie die trane keer nie. Keer op keer hierdie laaste paar dae soos vele ander Suid-Afrikaners.
Ek deel graag hierdie verhaal (oorspronklike skrywer onbekend).
Ek is ñ Mamma. Ek ken daai gevoel as die skool bel jy moet jou kind kom haal... maar nie vir so iets nie... niemand is voorbereid vir so iets nie... ek kan uit 'n ouerhart dink die pyn wat Hoërskool Driehoek se ouers deurgaan, ouers wat hul geliefde, kosbare kinders verloor het, ander wat biddend langs hul kinders se hospitaalbeddens staan. Broers en susters wat nie geweet het dis hul laaste "goodbye" daardie oggend nie. Kinders, maats se pyn en hartseer. Onderwysers wat ook hierdie kinders liefhet soos hul eie. Drome lê aan skerwe. Vrees, twyfel. En tog, niemand kan eintlik werklik verstaan nie.
Die laaste paar dae het ons wonderwerke beleef, dade van selfloosheid, groot skok en ook ongeloof. Wat opvallend is, is hoe ñ land se mense bymekaarkom om te bid, te bemoedig en te help.
Ek voel dis belangrik dat ek dit vandag moet sê, dis so belangrik dat ons hierdie besef. Kom, ons dra mekaar. Kom, nié net in krisistye nie, sommer net altyd, deur goeie en slegte, minder goeie en meer slegte, minder slegte en meer goeie tye. Kom, ons los die oordeel, die slim probeer wees, die lelike woorde, kritiek en jaloesie. Kom, Suid-Afrika. Kom.
Dit het so maklik geraak om te bespreek, te deel op sosiale media, te beskinder, sleg te sê, maar dit het vir ons so moeilik geraak om werklik te bid vir mekaar. Om op te daag. So moeilik geraak om mekaar te aanvaar, net soos ons is. Ek praat nie van krisistye nie, ek praat van elke liewe normale dag.
Wanneer daar ñ krisis is, sien ons dit, hoe ons mekaar dra. Die waarheid is, nie een van ons weet hoeveel dae, ure of selfs minute ons in hierdie lewe oor het nie. Tog, raak ons so vasgevang met onbenullighede, dit roof soveel tyd. Tyd wat ons nie het nie. Tyd wat ons vir die vyand as geskenk gee. Hoe gereeld dra ons, ons geliefdes? Met hoeveel erns dra ons mense wat ons skaars ken? Is liefde net ñ roetine? Nee. Bestaan liefde uit roetine uit? Ja. Duisende klein roetines. Een ding van roetine - jy is daar, doen wat jy moet en doen dit op tyd. Kan ons in die roetine kom om liefde daagliks uit te deel en te sê, hey, ek ken jou dalk nie, maar, asseblief kan ek jou dra?
Dis ñ bedrywige oggend in die dokter se kamers, toe die ou oom, so iewers in sy tagtigs, instap om steke te laat uithaal.
Hy noem dat hy haastig is, hy het stiptelik 9 uur ñ afspraak. Die suster neem sy bloeddruk en laat hom sit, wetende dat die dokter seker eers oor ñ uur beskikbaar sal wees.
Die oom kyk onrustig op sy horlosie. Omrede sy nie dadelik nog ñ pasiënt moet help nie, besluit die suster om gou die oom se wond te evalueer.
Die wond lyk goed en die suster kry die nodige voorraad by die dokter om die steke uit te haal en die wond weer toe te maak. Terwyl sy die wond versorg knoop sy ñ gesprek met die oom aan. "Het meneer ñ ander doktersafspraak vanoggend dat meneer so haastig is?" "Nee,"' antwoord die oom, "ek eet elke oggend 9 uur ontbyt saam my vrou by die tehuis. Sy is al ñ hele paar jaar daar, sy het Alzheimers-siekte."
Soos hul klaarmaak, vra die suster vir hom of sy vrou sal omgee as hy vanoggend ñ bietjie laat is. Sy gesig verstrek van hartseer, antwoord hy: "Sy weet nie meer wie ek is nie. Sy het my meer as vyf jaar laas herken." Verbaas vra die suster, waarom hy dan nou bly gaan elke oggend, as sy nie eers weet wie hy is nie. Glimlaggend druk hy die suster se hand en antwoord: "Sy mag my dalk nie meer ken nie, maar ek weet steeds wie sy is."
Jy voel dalk vandag verlore, vasgevang in jou eie ek, of dat jy nie meer vir God ken nie, of dit is dalk dat jy Hom al jare terug vergeet het. Wees gerus, Hy weet nogsteeds wie jy is. Hy weet nogsteeds waarvoor Hy jou lewe beplan het.
Kom ons los die onbenullighede. Kom ons gebruik die kosbare tyd om uit te vind waarvoor ons lewe en hoe ons ander kan dra.
Kom Suid-Afrika. Wees daar.
3 Februarie 2019
~TG.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking