Elke oomblik is deel van iets wat jy nooit weer terug sal kry nie.
Dinsdag 07 April 2020
Onder in my winkelsak
Honger, jy?
Dit is een deurmekaar, gejaagde oggend. Die oomblik toe my kar se wiele stop, stop my gedagtes ook by iets. Daar speel ‘n geestelike liedjie op die radio en die volgende gedagte bly vashaak in my kop… ons het daagliks kos vir die siel nodig. Omdat ek ʼn skrywer is bly dit nie net daar nie. Terwyl ek stap top ek oor die bewoording van die onderwerp… kos vir my siel, kos vir ons siele of kos vir jou siel… wat sal die tema met die meeste impak wees?
My gedagtes raak koud. Langs my in die pad lê ʼn man. Ek glo hy het die aand daar geslaap. Wel, ek neem aan dit is ʼn man, want ek kan nie sy gesig sien nie. Al wat uitsteek onder die massas komberse is 'n paar tekkies en ʼn piesang wat nog nie aan geëet is nie. Ek besef – dit is nie nét ek wat kos vir my siel nodig het nie.
Hoekom het die onderwerp my so vasgeboei? Die rede is die gejaag. Ons lewe elke dag en ons probeer natuurlik om dit elke dag reg en na die beste van ons vermoë te doen. Maar, ons maak nie elke dag genoeg tyd om ons siele te voed nie. Geestelike kos. Dit is waarna ons smag. Dit is waarvoor ons honger is. Lus kan aangevul word met aardse kos. Honger het egter net een antwoord – geestelike kos.
Ek gaan soek in my Bybel rond, want ek voel uitgehonger. Die kos kry ek toe in die hele Lukas 12 waar vertel word hoe God vir die amper “waardelose” mossie sorg. Graag deel ek ‘n klein stukkie van die voedsel met julle: “… Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand...!”
Ek weet ons werk nog aan die nuwejaarsvoorneme, ek weet sommige moes ons al laat vaar omdat daar ander prioriteite is en tyd ontbreek. Stop. Dink mooi hieroor. Waar op die prioriteitslys pas geestelike kos? Het ons hom ooit daar ingewerk? Het ons ooit besef hoe belangrik dit sal wees?
Waar ookal jy is vandag. Waarmee jy ookal besig is vandag. Stop.
Maak tyd vir jouself en God en ook gesinstyd saam met God.
Ons is so leeg, so honger. Kom ons wees gevoer met die regte kos.
Die kos vir ons siele.
Mamma, een uit ñ miljoen!
Eerstes wat jy nooit sal vergeet nie!
Klein twee-been monstertjies met vrolike gesiggies bewoon die laaste maand my huis. Van vroegmôre wanneer die son se strale begin uitkom is dit jolig, want dit is mos vakansie-tyd!
Vanoggend, met die begin van ʼn nuwe skooljaar, lê twee (verbeel ek my, maar hulle is skielik minder klein?) soetgesiggies heerlik en slaap (dis ʼn eerste!) en ek sukkel om hulle wakker te kry vir die eerste belewenis van skooljaar 2018!
Terwyl ek na al die mede-ouers se “terug-skool-toe” kiekies op Facebook kyk sit ek en dink aan al die eerstes op ons lewenspaaie. Eerste deurslaap, eerste kos, eerste skooldag, eerste werk, eerste liefde, eerste kind, die eerste plooie, grys hare en selfs ook die eerste afsterwe van ʼn geliefde...
Nuwe avonture. Lekker ervarings. Minder lekker ervarings. Leerskole van die lewe.
Hoe geluk kan mens wees om eerstes te kan ervaar. Dis immers ʼn teken dat ons lewe en dat ons nog ʼn dag geskenk gekry het op aarde.
Ek wil eerste ervarings koester, maar veel meer wil ek elke dag as ʼn heel eerste sien in my lewe. Elke dag opnuut dankbaar wees vir dit wat wag. Soos ʼn klein twee-been monstertjie met ʼn vrolike gesiggie uitsien na die nuwe dag!
Hoeveel nuwe eerstes kan jy vir jouself skep vir 2018? Jy sal skoon verbaas wees as jy mooi daaroor nadink.
Die tyd van die jaar wat nuwejaarsvoorneme amper weer begin afkoel kan ons regtig sit en dink oor wat ons met ons tyd, ons talente en met ons lewens gaan maak. Ek het eenkeer gelees dat ʼn nuwe gewoonte drie weke neem om gevestig te word in jou roetine. Dis wonderlike nuus. Dit beteken dat ons elke drie weke iets nuuts kan aanpak!
Huffington Post het gedurende 2013 ʼn studie gedoen onder hul Facebook aanhangers oor hul gunsteling eerste ervarings. Die volgende is van die onderwerpe wat hul aanhangers se harte aangegryp het:
Die geboorte van jou kind
Om ʼn “roller coaster” te ry
Die eerste fietsrit sonder wieletjies
Om te kan ophou rook
Eerste half-marathon deelname
Om te trou
Avonture soos om te snorkel, valskerm te spring, ski ensovoorts.
Wat is op jou avontuurlys vir 2018?
Ek laat jou met die volgende gedagte: Haal af die bril wat jou ‘n blik gee van omstandighede, tekortkominge en vorige ondervindings. Maak jou gordel van selfvertroue styf vas en weet: dis 'n nuwe dag en ʼn nuwe week. Berus jouself in die wete dat met God by jou, is niks vir jou onmoontlik nie.
~TG.Hoop vir 2018
Waar ons aan die begin van 2018 staan is meeste mense reeds vuur en vlam aan die gang met hul voorneme vir die nuwe jaar, ander bou voort op doelwitte waarmee hul lank reeds besig is. Daar is baie waarop ek wil voortbou en ook baie waarmee ek nuut wil begin. Tog, struikel ek al vir die eerste week van hierdie jaar met ʼn tema. Hoop.
Hoop is tog aansteeklik en selfs ook genesend lees ek een van vele artikels. Ek dink aan die mees positiewe mense wat ek ken, maar ek dink ook aan soveel mense wat nou, met die aanbreek van die nuwe jaar, met nuwe seer en uitdagings gekonfronteer word. Dit is my voorneme vir 2018: om vir daardie mense hoop te kan gee. ʼn Herlewing van hoop of selfs nuwe hoop. Waarom moet jy hoop hê vir die nuwe jaar?
“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” - Jeremia 29:11
God is waarlik in beheer. Soms is dit moeilik om te verstaan waarom sekere dinge in ons lewens gebeur. Veral seerkry en verlies. Wanneer jy ʼn geliefde verloor of hulle sien seerkry is dit normaal om te vra hoe kan God dit toelaat. Ons is mense. Dit is deel van wie ons is. Ek onthou die oggend wat ek verneem het van my pa se afsterwe. Ek het daar gelê en ek was te leeg om te voel, te seer om te voel. Alhoewel ek hom elke dag mis kan ek getuig van die krag van genesing wat God in my bewerkstellig. Die herlewing van dankbaarheid wat in my lewe plaasvind. Ten spyte van die seer kan ek met rustigheid getuig – ek weet God is in beheer. Altyd.
Jou storie… is nog nie klaar nie. Die verhaal van jou lewe is dalk tans by ʼn antiklimaks of ʼn doodloopstraat. Troos jouself in die feit dat jou verhaal nog nie klaar is nie. Ons lewens het seisoene. Die goeie nuus van seisoene is dat elke seisoen tot ʼn einde kom. Dit kan nie heeljaar winter wees nie, ook nie heeljaar somer nie. Die probleme en seer waarmee jy tans gekonfronteer word, sal binnekort plek maak vir die nuwe seisoen in jou lewe. Vertrou God met ʼn positief hart. Jou tydperk om te blom is reeds oppad!
Die ewige lewe wag. Ons as mens is nie eers in staat om te verstaan hoe fantasties God se heerlikheid gaan wees nie. Enige iets wat nou vir ons pyn of seerkry veroorsaak gaan binnekort heeltemal vergete wees. Ons gaan God se glorie ervaar wanneer ons by Hom aansluit. Daar is soveel sekerheid in die wete dat die ewige lewe vir ons wag.
God het nie moed verloor nie. Ons moet ook nie.
God glo in jou want Hy ken jou volledig. Hy ken jou naam. Hy weet waar jy woon. Jy is vir Hom belangrik. Elke behoefte van jou hart, elke droom – dit ken Hy ook. Ja, dis waar God ken jou slegste eienskappe, maar moenie vergeet nie – Hy ken ook jou beste eienskappe.
Geliefde van die Vader. Dit is seker die grootste en mooiste rede om nie hoop te verloor nie – die wete dat God jou liefhet. Hy het Sy seun vir jou gegee. God is lief vir jou.
Ons gebede word gehoor. Ons is beslis nie alleen nie!
Moet nooit ophou bid nie. Maak jouself deur gebed en danksegging aan die Vader bekend. Ons is nooit alleen nie. Daar waarheen ons vandag of môre moet gaan, daar is God reeds teenwoordig.
Daar is ander wat ook soos jy voel. (Reik uit)
Dit klink dalk onsensitief of selfs onmoontlik, maar daar is ander mense wat ook ervaar wat jy tans ervaar of dit reeds ervaar het. Wees wakker vir ander se seer en gebrokenheid. Maak nuwe vriende wat soos jy voel. Reik uit na ander. Ons dra mekaar. Ons gee mekaar nuwe hoop.
Liewe vriend of vriendin, my wens vir jou is dat daar ʼn vlam van hoop in jou menswees sal skyn. Mag 2018 vir jou ʼn jaar vol nuwe moontlikhede wees.
Maandag 06 April 2020
Wie sal jou dra?
Covid-19, wanneer slaap jy?
Aand na aand...
Dit voel of die wêreld om my vergaan
Covid-19. Selfdood. Armoede. Geweld.
Pyn. Seer. Eensaamheid. Geld. Vrees.
Soveel mense bid
Net Hy kan genees.
Ek kan nie slaap nie
Here, wees met die wêreld vanaand.
Maak heel, vergewe, maak gesond;
U verbond is Ewig
Ons as mens te ledig.
Sondag 26 Augustus 2018
Maanspore
Maandag 07 Mei 2018
Jou pantoffels kan iemand se drome bewaarheid! Make someones dreams come true with your slippers!
Sondag 06 Mei 2018
Gee jou hart... Give your heart
Die volgende paar weke gaan hierdie blog fokus op nie-winsgewende organisasies en hul impak.
Hoekom? Om hierdie dorp, stad, land, wêreld ñ beter plek te maak. Een tree op ń slag.
Ek daag jóú uit om een van hierdie organisasies te kies en in hulle te belê hetsy deur jou tyd, vaardighede of geld.
Onthou, elke sekonde tel. Spring weg!
The next few weeks this blog will focus on non-profit organisations.
Why? To make this world a better place. One step at a time.
I challenge you to choose one of these organisations and invest in them through your time, skills or money.
Remember, every second counts. Now is the time!
Dinsdag 13 Maart 2018
Die Ysterpot
Rustyd. Sinoniem hiermee is skryftyd.
As my gesin slaap kan ek skryf. Daar is soveel waaroor ek wil skryf, maar tyd is min en soos jul reeds weet - elke sekonde tel. Daar is nog iets wat sinoniem met rustyd is in ons huis. Storietyd.
Daarom kies ek vandag ñ storie as simbool vir ñ belangrike onderwerp. Een waarmee ek definitief self ook worstel.
Die ysterpot.
Ek lees vir my kinders 'n storie uit 'n ouerige afrikaanse storieboek. Die verhaal klink baie soos Jan en die boontjierank, maar met 'n "kinkel" in die kabel.
Jan se naam is Pieter en die boontjierank is 'n ysterpot.
So het die einste Pieter sy ma se laaste koei verkoop in ruil vir die ysterpot wat met 'n fyn stemmetie gefluister het: "Koop my, koop my." Dadelik dink ek aan ons Eienaar, ons Vader. Ons het darem nie nodig om te sê "Koop my, koop my" soos die ysterpotjie nie, want Jesus het ons immers reeds vrygekoop aan die kruis. Tog, sal dit nie wonderlik wees as ons met dieselfde ywer en opgewondenheid van die ysterpot in die aangesig van ons Eienaar kan uitroep "Koop my, koop my" nie? Dit is belangrik om God met ywer te dien. Ander mense sien ons voorbeeld raak. Ons kinders veral. Onthou altyd wie kyk vir jou.
Die tweede les wat wat ek by hierdie ysterpot leer, is die les van geloof. Die moeder is ontnugter deur die onverantwoordelike, roekelose besluit wat haar seun geneem het. Dink net haar ongeloof en haar seerkry in hierdie desperate situasie… sy stuur haar seun weg met hulle laaste koei, dis al wat hulle het, maar sy vertrou hom. Hy sal die koei verkoop. Vanaand sal hulle iets hê om te eet. Haar seun kom terug sonder die koei met net ‘n leë ysterpot. Tog, ten spyte van sy naïewe besluit glo die seun daar is ‘n rede waarom hy die ysterpot se stem moes hoor. Al is sy ma se reaksie negatief doen Pieter tog wat die leë ysterpot sê en hy sit die pot op die vuur.
Die derde punt wat my fasineer van hierdie verhaal is die kontras tussen die regverdige en onregverdige. Dit is somtyds maklik om moed te verloor as ek sien hoe skurke soms wegkom met alles en onregverdige mense seerkry. Dit laat my dadelik aan God dink. Hy het vir ons ore gegee. Hoeveel te meer hoor hy ons nie altyd ook nie?
Die seun en sy ma is verskeie kere sonder hul mede wete beroof deur ‘n ryk man wat op die heuwel woon. Alhoewel Pieter en sy ma vir die ryk man gewerk het, het die man hul nogsteeds skelm van hul koeie beroof.
Die huppelende, jubelende pot spring tot by die skuur van die ryk man en kom terug gevul met koring.
Meeste van die tyd huppel, jubel en spring on sook vir Jesus. Tog, bring ons nie vol potte terug na die Meester toe nie. Wie kan ek en jy hierdie week in liefde dien? Vir wie kan ons uitdeel uit ons oorvol potte uit?
Dan kom die laaste opvallende punt in hierdie verhaal, een wat dui op rekenskap en wat ook daarop dui dat slegte gebeure of tye nie vir ewig is nie.
Die skelm, ryk man betrap die pot wat sy geld gevat het. Die man steek sy hand in die pot om sy geld uit te kry, dan sy kop en dan sommer op die ou einde sy hele lyf. Die deksel van die pot klap toe en daar trek die pot. Die pot huppel, jubel en spring tot by die einde van die wêreld. Niemand het ooit weer Pieter en sy ma se goed gesteel nie.
Te goed om waar te wees? Seker. Maar, soos hierdie storie, het elke hoofstuk in ons lewens ‘n begin, ‘n einde en ook ‘n les om te leer.
Kan ons elkeen nie maar so ‘n bietjie meer soos ‘n ysterpot wees nie?
Vrydag 09 Maart 2018
Hou moed... ek wil, ek kan, ek sal, ek hét!!!
Dis so maklik om negatief te word. Om negatiewe dinge te sê. Om gedrewe te wees deur emosie.
Dis egter juis midde in ons swakheid dat ons sterk is.
Sterker as wat ons ooit sal besef.
Hou moed.
Maandag 25 Desember 2017
Kersfeeswense
2017 was ñ jaar vir die Dankbare Hart. Dankie Koning van my Hart vir alles. Die waardevolle lesse, die ou herinneringe, die nuwe vreugdes, die deurbrake en selfs ook die teleurstellings.
Honderde babas was al gebore, gebore om eendag Konings te word. U, Liewe Heer, was ñ Koningin, eerste, wat gekies het om Gebore te word en ook te Sterf om ons te kan red.
Ek is lief vir u met al die mooi in my, met al die lelik in my, met al my vreugdes en smarte. Met my hele menswees. Net soos ek is. Maar, ek sal altyd strewe om meer soos U te wees.
Geseënde Geboortedag Liefste Jesus.
My strewe vir 2018 is om meer soos U te wees en minder soos ek. Voorspoedige 2018!!!
{Tersia Gouws}
Sondag 19 November 2017
Swak, swakker, swakste...?
Ek is vandag hier om jou op te tel.
Nee, ek het ongelukkig nie superkragte nie. Ek is ook nie ñ engel nie.
Maar, ek is hier.
Terwyl ek hier is kan ek twee goed vir jou doen.
Ek kan vir jou hoop gee deur die boodskap wat ek vandag bring. Ek kan saam jou bid oor die uitdagings waarmee jy gekonfronteer word.
Die lewe is ñ morsige storie.
Ja, daar is baie mooi tye. Dit keer egter nie die realiteit van swaar tye nie.
Soms lyk jou omstandighede anders as wat God se beloftes lyk. Wat nou?
Jy word hartseer. Jy is kwaad. Jy verstaan glad nie.
Ek het al baie so gevoel. Kwesbaar. Kwaad vir God. Lief en kwaad gelyktydig, kan dit wees?
God het my egter baie geleer tydens my omstandighede. Jip, jy hoor reg... gedurende my moeilikste tye... was God my Leermeester.
As ek net alles kon kry wat ek wou hê in die lewe, ñ "quick fix" vir elke seerkry, vir elke probleem... wie sou ek vandag wees? Watter diepte sou my hart hê? Hoeveel begrip en deernis sou ek dan kon wys vir ander mense wat swak is?
Ons glo dalk dit is. Maar, ñ wonderwerk is nie altyd die antwoord nie.
In ons swakheid weerspieël daar soveel meer van God se sterkte en Sy krag deur ons.
Indien jy tans in ñ tydperk van seer is, ñ tydperk van worsteling en van twyfel... gaan lê jouself by Jesus se voete neer. Moenie aarsel nie. Hardloop in Sy arms in. Hul is wawyd oop om jou te ontvang. ñ Hemelse Pa se arms is altyd oop.
Dit lyk of voel dalk nie nou so nie, maar God se Beloftes is Waar en Ewig.
Lees asb. 2 Korintiërs 12.
Ek deel graag veral vers 9 met jou:
"1. Om te roem, het wel geen sin nie, maar terwyl dit dan nou moet, kom ek by gesigte en openbarings wat die Here gegee het. 2. Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3-4. Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat 'n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5. Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6. Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7. selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk."
{TG}
Saterdag 18 November 2017
Saai woorde vol liefde...
Maar "T-Rex" is nie alleen skuldig nie. Eet ek nie baie kere ook mense op met my woorde nie? Laat my woorde nie ook soms soos "T-Rex" die koppe waai nie? Ek is baie seker dat ek al groot happe uit naastes se menswees gevat het wanneer ek nie mooi besin het oor my woorde nie.
Alhoewel dit waar is en ek natuurlik spyt voel oor die groot happe, besef ek ook, dat my tong wel 'n pragtige deel van my menslike anatomie is. Jy sien daardie eindste tong oefen ook om voortdurend opbouende woorde te saai. Woorde wat oes sal lewer in mense se lewens.
Iemand het eens gesê dat ondeurdenkte woorde twis veroorsaak, wrede woorde lewens uitmekaar kan ruk, tydige woorde spanning kan verminder, maar die "ultimate" dat ñ liefdevolle woord sal genees en seën.
Ek wil myself en ook vir jou vandag uitdaag. Laat die liefdevolle woorde vol vanuit jou hart vloei. Vandag is hier. Vandag sal nooit wéér kom nie. Wees vandag ñ seën vir iemand deur jou woorde.
Ephesians 4:29 - "Do not let any unwholesome talk come out of your mouths, but only what is helpful for building others up according to their needs, that it may benefit those who listen."
TG.
Featured post
Nie goed genoeg nie!
Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit? Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...
-
Hoe om koeksoda en klapperolie as 'n diep reiniger op jou gesig te gebruik... ♡ Resep♡ bestanddele: 2 teelepels organiese ekstra-virg...






