Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Honger, jy?

Dit is een deurmekaar, gejaagde oggend. Die oomblik toe my kar se wiele stop, stop my gedagtes ook by iets. Daar speel ‘n geestelike liedjie op die radio en die volgende gedagte bly vashaak in my kop… ons het daagliks kos vir die siel nodig. Omdat ek ʼn skrywer is bly dit nie net daar nie. Terwyl ek stap top ek oor die bewoording van die onderwerp… kos vir my siel, kos vir ons siele of kos vir jou siel… wat sal die tema met die meeste impak wees?

My gedagtes raak koud. Langs my in die pad lê ʼn man. Ek glo hy het die aand daar geslaap. Wel, ek neem aan dit is ʼn man, want ek kan nie sy gesig sien nie. Al wat uitsteek onder die massas komberse is 'n paar tekkies en ʼn piesang wat nog nie aan geëet is nie. Ek besef – dit is nie nét ek wat kos vir my siel nodig het nie.

Hoekom het die onderwerp my so vasgeboei? Die rede is die gejaag. Ons lewe elke dag en ons probeer natuurlik om dit elke dag reg en na die beste van ons vermoë te doen. Maar, ons maak nie elke dag genoeg tyd om ons siele te voed nie. Geestelike kos. Dit is waarna ons smag. Dit is waarvoor ons honger is. Lus kan aangevul word met aardse kos. Honger het egter net een antwoord – geestelike kos. 

Ek gaan soek in my Bybel rond, want ek voel uitgehonger. Die kos kry ek toe in die hele Lukas 12 waar vertel word hoe God vir die amper “waardelose” mossie sorg. Graag deel ek ‘n klein stukkie van die voedsel met julle: “… Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand...!”

Ek weet ons werk nog aan die nuwejaarsvoorneme, ek weet sommige moes ons al laat vaar omdat daar ander prioriteite is en tyd ontbreek. Stop. Dink mooi hieroor. Waar op die prioriteitslys pas geestelike kos? Het ons hom ooit daar ingewerk? Het ons ooit besef hoe belangrik dit sal wees?

Waar ookal jy is vandag. Waarmee jy ookal besig is vandag. Stop.

Maak tyd vir jouself en God en ook gesinstyd saam met God.

Ons is so leeg, so honger. Kom ons wees gevoer met die regte kos.

Die kos vir ons siele.

~ TG.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...