Onderwerpe waaroor ek skryf het meestal te make met my eie belewenisse, probleme, foute en ook die klein allerdaagse dinge waarin ek hoop vind.
Dit was Woensdag. Wag... meer soos Flaterdag vir my.
Energie laag. My tyd misreken. Al hoop... die molshoop van die oomblik.
Ek probeer die flenters van my ongeorganiseerde dag aanmekaar las soos duisende fyn stukkies glas met superglue.
So hier is dit. Tyd was nie my vriend nie. Flater A: my etes vir die dag, kosblikke en al, in ñ plastiek winkelsak. Nog nie klaar nie. Flater B: my oefenklere in ñ ander ewe wit, blou en rooi plastiek winkelsak.
Teen die middag oorweeg ek om eerder gym te los, maar ek weet oefening laat my altyd beter voel, veral na ñ moeilike dag. Ewe braaf trotseer ek die gym met my blink winkelsak. Ek bêre hom trots in die rakkie tussen die ander dames se ontwerper oefensakke.
Dis eers toe ek natgesweet en moeg huistoe ry dat ek besef watter lewensles daar onder in my winkelsak lê. Skielik is die sak vir my goudwerd.
Ek besef vir die eerste keer dat God nie omgee in watter sakke ek my lewe probeer bymekaar hou nie. Die boodskap is duidelik tussen wit, rooi en blou plastiek versteek. Dinge mag dalk nie vandag uitwerk soos jy beplan het nie. Maar, daar is een groot geskenk in vandag. Jesus. Ons tekortkominge is uitgewis. Dis die ware oorwinning.
Ek kry krag onder in my winkelsak. Die wete dat God daar is, ongeag watter etiket vandag oor my skouer mag hang.
~ TG.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking