Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Eerstes wat jy nooit sal vergeet nie!

Klein twee-been monstertjies met vrolike gesiggies bewoon die laaste maand my huis. Van vroegmôre wanneer die son se strale begin uitkom is dit jolig, want dit is mos vakansie-tyd! 

Vanoggend, met die begin van ʼn nuwe skooljaar, lê twee (verbeel ek my, maar hulle is skielik minder klein?) soetgesiggies heerlik en slaap (dis ʼn eerste!) en ek sukkel om hulle wakker te kry vir die eerste belewenis van skooljaar 2018!

Terwyl ek na al die mede-ouers se “terug-skool-toe” kiekies op Facebook kyk sit ek en dink aan al die eerstes op ons lewenspaaie. Eerste deurslaap, eerste kos, eerste skooldag, eerste werk, eerste liefde, eerste kind, die eerste plooie, grys hare en selfs ook die eerste afsterwe van ʼn geliefde...

Nuwe avonture. Lekker ervarings. Minder lekker ervarings. Leerskole van die lewe. 

Hoe geluk kan mens wees om eerstes te kan ervaar. Dis immers ʼn teken dat ons lewe en dat ons nog ʼn dag geskenk gekry het op aarde.

Ek wil eerste ervarings koester, maar veel meer wil ek elke dag as ʼn heel eerste sien in my lewe. Elke dag opnuut dankbaar wees vir dit wat wag. Soos ʼn klein twee-been monstertjie met ʼn vrolike gesiggie uitsien na die nuwe dag!

Hoeveel nuwe eerstes kan jy vir jouself skep vir 2018? Jy sal skoon verbaas wees as jy mooi daaroor nadink. 

Die tyd van die jaar wat nuwejaarsvoorneme amper weer begin afkoel kan ons regtig sit en dink oor wat ons met ons tyd, ons talente en met ons lewens gaan maak. Ek het eenkeer gelees dat ʼn nuwe gewoonte drie weke neem om gevestig te word in jou roetine. Dis wonderlike nuus. Dit beteken dat ons elke drie weke iets nuuts kan aanpak! 

Huffington Post het gedurende 2013 ʼn studie gedoen onder hul Facebook aanhangers oor hul gunsteling eerste ervarings. Die volgende is van die onderwerpe wat hul aanhangers se harte aangegryp het:

  • Die geboorte van jou kind

  • Om ʼn “roller coaster” te ry

  • Die eerste fietsrit sonder wieletjies

  • Om te kan ophou rook

  • Eerste half-marathon deelname

  • Om te trou

  • Avonture soos om te snorkel, valskerm te spring, ski ensovoorts.

Wat is op jou avontuurlys vir 2018?

Ek laat jou met die volgende gedagte: Haal af die bril wat jou ‘n blik gee van omstandighede, tekortkominge en vorige ondervindings. Maak jou gordel van selfvertroue styf vas en weet: dis 'n nuwe dag en ʼn nuwe week. Berus jouself in die wete dat met God by jou, is niks vir jou onmoontlik nie.

~TG.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...