Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Hardloop jou "megabytes" uit?

Twee jaar gelede woon ons nog in Windhoek in ń huis wat met koopkrag meters werk. Alhoewel die winter redelik warm is in Windhoek, het ons daardie week ñ uitsonderlike koue week gehad, met vroegoggendtemperature van tot minus 8 grade.

My seun was op daardie stadium vyf jaar oud en is nogal ń bekkige outjie. Te bekkig soms.

My man was min by die huis weens werksverpligtinge en omdat ons nie familie naby gehad het wat kan uithelp nie het ek elke liewe ruskans, soos in die geval, ñ warm bad, waardeer. Maar, soos jul ook seker al ervaar het, kinders los jou nie sommer alleen wanneer jy wel wil alleen wees nie.

Ek lê in die heerlike warm bad, hy klop aan die deur en sê vir my: "Mamma, jy beter nou gou-gou klaar bad, want ek gaan nóú die lig afsit, die "megabytes" is amper klaar."

Ons kan so lekker lag vir die onskuldige kinderlike wyshede wat tog soms ietwat waarhede kan inhou. Net soos daardie dag, twee jaar terug, is dit nou weer Augustus-maand... ons almal is op ons mid-winter "blues". 

Hardloop jy dalk ook vandag uit "megabytes" uit?

Het jy al die vreugde en vrede in jou hart ervaar van wanneer God jou nuwe krag gee?

Kyk wat sê God vir ons, ñ boodskap so spesiaal en direk, in 1 Petrus 5 vers 10:

"God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Mag God jou nuwe krag gee, vir die volgende seisoen in jou lewe.

Mag hierdie nuwe Lente seisoen, wat voor die deur staan, vir jou net liefde, vreugde en vrede inhou. Baie uit-die-maag-uit lag oomblikke en soete herinneringe van die geliefdes wat jou moontlik reeds verlaat het en ook mooi tye saam die wat nog by jou kan wees.

Geniet ñ wonderlike week. Drink daai ekstra koppie koffie, eet daai stukkie chocolate koek... die lewe is kort. Kom ons gebruik vandag al ons "megabytes" vir vandag klaar voor die lig afgaan.

Seënwense.

Hierdie plasing is opgedra aan my Ma, Leah, omdat hierdie haar gunsteling staaltjie is.

~TG

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...