Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Lewe voluit, volkleur!

Die Forrest Gump-karakter se bekende slagspreek lui as volg: "Mama always said life was like a box of chocolates. You never know what you're gonna get."

Ek het ñ ander siening oor my lewe. Die geleentheid om te lewe is meer soos ñ boksie Smarties vir my: "Wotalotigot".

As ons altyd fokus op wat ons nié het nie gaan ons altyd bekommerd wees oor wat ons nié het nie. Hoe geseënd is ons? Jy sit dalk nou in jou piepklein, beknopte huisie en lees hierdie artikel. Dalk sit jy daar met ñ muur vol fotos van jou geliefdes, en dis dalk ñ klein muur maar jy sit en bekyk die muur met ñ hart vol liefde. As dit die geval is, het jy alreeds alles. 

Miskien sukkel jy om kop bo water te hou of om ‘n teleurstelling te oorkom. Maak nie saak wat die situasie is nie, iewers is daar iets positiefs te vinde.

Moenie my verkeerd verstaan nie - ek sê nie daar is iets fout met rykdom of ñ groot huis nie. Ek weet net hoe dit voel om soms moedeloos te raak met mens se omstandighede. Hetsy dit jou werk, huwelik, geloof, studies, gesondheid of selfs ouerskap is. Die lewe is nié maklik nie!

Jy sien, ons as mense is nie juis altyd dankbaar nie en as ons is, wys ons dit nie altyd vreeslik graag nie. Ons is ñ trotse en selfs hardkoppige spesie.

Somtyds blaai ek deur sosiale media en dan sien ek die "sugar coat" op ander Smarties se lewens. Die tuisbly mammas wat tyd het om betrokke te wees by soveel dinge waarop ek uitmis, die bikini lyfie meisies, die uitblinkers, die mammas met die weeklikse spa daggies en oorsese vakansies, die enkellopendes wat kan kies waarop hulle tyd en geld wil bestee, die jonger generasie se skoonheid en energie, die tyd wat verby vlieg... Dit is maklik om sommer depressief te raak. 

Onthou net een ding, ander kyk ook in jou "suger coat" vas. Dit wat jy as vanselfsprekend, minder glansryk, nietig of selfs nutteloos ervaar in jou eie lewe is vir die volgende ou dalk ñ groot hunkering of ñ ontoereiklike droom of, seëning. 

Hoe lewe ons saam in ñ wêreld waar ons dan soveel verskil? 

Dis eintlik baie maklik. Aanvaarding.

Elke Smartie het sy plekkie in die boksie van die lewe. Elke Smartie is uniek. Elke Smartie het iets soets aan die binnekant, ongeag die kleur en geur van sy "sugar coat."

 

Ek laat jou met die volgende gedagte: 

 

Wat is ñ goeie lewe? As jy gereeld kan glimlag, groot kan droom, baie kan lag en kan besef hoe geseënd jy is met wat jy het, dán het jy ñ goeie lewe.

Hierbo is ñ foto van my gesin. Ek is trots om hierdie stukkie van my menswees met jou te kan deel. Dit is hierdie drie suikersoet-aan-die-binnekant Smarties wat kleur bring in my lewe. Dankie aan Lee Kleingeldt Fotografie asook Ramé Party Venue in Springs, Gauteng vir die pragtige foto geleentheid. Ons is voorwaar geseënd.

Dankie Liewe Heer vir die geleentheid om te kan lewe. "Wotalotigot".

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...