Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Vrydag 10 April 2020

Nalatenskap van Covid-19?

Koors, vlak asemhaling, siekwees en selfs die dood. Indien jy hierdie simptome op die oomblik noem beskryf jy dalk die Covid-19 virus. As ek hierdie simptome noem, dink ek aan iets iets wat baie verder strek as ‘n virus.

Kom ons praat met erns oor die gevolge van hierdie toestand. Die monsters van vrees, sosiale afsondering, depressie, addisionele werkstres, verlies aan inkomste en ‘n steierende ekonomie. Die monsters van selfsug deur verspreiding van valse inligting, deur die rakke leeg te koop vir jouself, deur te gaan braai terwyl jy in afsondering moet wees, terwyl hoeveel mediese werkers hul lewens op die spel plaas vir hul medemens...

Is ons die produkte van ons eie skeppings?
Ons kan China blameer, na regte. Die waarheid is, ons – die hele mensdom – het die bal laat val. Meer as een keer. 
Die bal waarvan ek praat is natuurlik die Aarde. Sien Adam en Eva was geseënd toe God die wêreld geskape het. God het immers vir hulle twee, die perfekte aarde, op ‘n skinkbord gegee. Daar was net een voorwaarde. Klink nie moeilik nie, né? Wel raai wat, jy ken reeds die uitkoms van hierdie verhaal. Hul het die bal laat val. Die opdrag daarna was veel minder eenvoudig. Na die sonde het verantwoordelikheid ontstaan. Die mens moes sy eie weg baan op aarde, maar ook, na die Skepping omsien, die plante, diere en ook na mekaar.

Toe begin die mens sy eie weg baan, deur die eeue heen raak die mens al hoe slimmer, meer vaardig en tegnologies gevorderd. Die mens dink hy is verhewe bo alles. Rykdom, begeerte, hoogmoed en kompetisie. Met die druk van ‘n enkele knoppie kan die mens sy mag uitoefen. Geld wat mos stom is, maak alles reg wat krom is. 

Die mens laat val weer die bal. Die bal hop en hop en hop...

Leë winkelrakke, mense wat skarrel om kosvoorraad aan te vul, iemand kla hul eet gewoonlik net gesondheidsbrood, maar gryp die laaste drie brode op die rak vir hul trollie. My kinders moet ook eet, so ry ek nou maar na winkel nommer twee en drie, tot ek ‘n brood kry. Dis my verjaarsdag, ek doen nooit die partytjie-ding nie, tog minder opgewonde besluit ek om maar ‘n braai te hou. Die familie is genooi en net een paar vriende. Ons eet en kuier lekker, ek ontvang geskenke, die kinders baljaar in ‘n groep reg rondom die huis. Minwetend dat dit ons laaste samesyn sal wees vir ‘n lang tyd.  Die volgende aand bars die storm los oor ons koppe, Covid-19. Die skole moet vroeg sluit en ons moet sosiaal distansieër. Woensdag die 18de, ek word 35, die skole sluit. Ek kry geen toiletpapier te koop nie, 18 rolle op die 18de, vir my verjaarsdag, is dit te veel gevra? Ek begin stilweg bekommerd raak oor die vrees wat ek om my sien, oor die chaos en ook die selfsug.

Die aankondiging volg skaars ‘n paar dae later. Ons het 21 dae van afsondering, ja “lockdown” soos jul elkeen dit leer ken het. My hartswens is dat daardie 21 dae vir jou ‘n geleentheid gebied het om met die werklike Skepper van mens, dier, hemel en aarde te praat, om Sy hart raak te sien en Sy begeertes vir jou toekoms. Kom ek stel dit eenvoudig. Om jou prioriteite te verander, te minimaliseer, vir die onsekere toekoms wat wag. Om die bal weer op te tel. Voorwaardes?  Ja, as ons die bal optel, gaan ons nuwe foute begaan. Ons is immers mense, kreature van gewoonte en lustig vir gemak en sonde. 

My gebed vir elkeen van ons is dat wanneer ons die bal sal optel, ons nie sal regop staan en dit op die punt van ons vinger sal balanseer nie, maar dat ons op ons knieë sal bly met albei hande op die bal. Die bal stewig vashou, nie net met ons eie hande nie, maar ook saam met die hande van ander. Wanneer hierdie globale bal weer vir ons te swaar raak? Kom ons dra dan mekaar? Het jy nie dalk ‘n ekstra plekkie in jou huis gehad tydens Covid-19 vir iemand wat eensaam en alleen was nie? Toe Maria ver swanger was, kry sy en Josef by geen herberg ‘n plekkie nie. Niemand wil hulle en die ongebore baba Jesus inneem. Wil jy weet van afsondering, van verwerping, van alleenheid? Vra gerus vir Jesus, hy het ‘n hele verhaal om jou te vertel.
Die lewe soos ons dit ken, het verander. Kom ons wees in dankbaarheid daar vir mekaar.

Ons taak op aarde - addisioneel tot omsien na diere en die natuur: om mense aan ons Skepper voor te stel? Hoeveel tyd spandeer ons aan hierdie massiewe verantwoordelikheid wat aan ons toegeken is? Wie het jy al aan God voorgestel? Het hulle Hom deur jou leer ken, of het jy hul voorgestel aan oordeel en allerhande reëls rondom hoe ‘n Christen moet of nie moet optree?  Het hulle God se liefde, Sy aanraking deur jou gevoel, sy vrede in jou oë gesien? Was jy te besig met die pot aan die kook hou, die beleggings te vermeerder, die figuur mooi hou, oorsese vakansies op Facebook te plaas, jou geletterdheid op te skerp, soveel dat daar nie tyd was vir hierdie “ander mense” faktor nie? 

Mag die COVID-19 ons oë open tot meer, mag dit stof tot nadenke vir ons wees. Mag dit met elkeen van julle goed gaan en mag elkeen van julle daardie goedheid met iemand deel. Gedurende Covid-19 was ons meer hande as ooit tevore en ons vermy mekaar. Dalk, post-Covid, kan ons Jesus se voorbeeld volg. Hy was nie hande en vermy kontak nie, nee, Hy doen die volgende:

“As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het moet julle ook doen” ~ Johannes 13:14-15. 

Hoe volg ons ‘n nuwe benadering? 

In Johannes 13:34-35 gee Jesus die volgende opdrag aan Sy dissipels: 
“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Hierdie dissipelskap kan in ons woorde weerklank vind maar is meer waardevol as dit gesien kan word deur ons dade.
Voor ons Jesus kan leef moet ons regtig verstaan wie Jesus werklik is. Herontdek Sy Woord, interpreteer Sy gelykenisse. Woon kerkdienste by of kyk na geestelike materiaal aanlyn, sing tot Sy eer, verhef jou stem en loof sy Naam. Sit die verlede agter jou. Maak reg waar jy seergemaak het. 

Sê jammer. Vergewe. 
Begin oor. Gee meer. 

Wil jy weet waar jy moet begin? Begin deur lief te wees vir jouself. Jy is volgens God se volmaakte beeld geskape. Moenie daar stop nie want, self-liefde wat nie ontkiem en uitspruit nie, is gevaarlik.  Deel jouself, deel jou liefde, deel jou seëninge. Mense gaan jou veel meer waardeer as wat jy self ooit kan. 

Die nuwe jy gaan nuwe geleenthede raaksien om ander in liefde te dien. Die nuwe jy gaan God se goedheid en guns op nuwe maniere ervaar. Wees opgewonde!
Kan jou hart verander teenoor mense? Kan iemand waarvoor jy bid se gewoontes verander? Kan slegte situasies verander? Beslis, dit kan. Selfs die negatiewe nuus van Covid-19 het positiewe resultate gehad. 

In China het ‘n Ouma op 103-jarige ouderdom genees van die virus. ‘n Kliniek in Cleveland het spoedig ‘n nuwe toets ontwikkel wat binne ure toets in plaas daarvan om vir dae op uitslae te wag. Gesinne regoor die wêreld leer om weer tyd saam te spandeer en saam te bid vir die wêreld. Daar kom ligter ure in donker dae – mense dans op hul balkonne, die klanke van musiekinstrumente weerklink in die aand tydens afsondering.

In die wêreld gaan slegte dinge met ons gebeur, maar ons moet kies hoe ons daarop gaan reageer. Jou nuwe normaal, post-Covid-19, kan jy op ‘n positiewe manier aanpak en nuwe doelwitte vir jouself skep, volgens jou nuwe situasie. 

Skud jou virus depressie af en sit albei jou hande op die bal! Post-Covid, waar kan jy hulp aanbied, waar kan jy saambid, waar kan jy hulp ontvang?

Liewe Leser, ek het die bogenoemde geskryf op dag drie van Covid-19 afsondering in Suid-Afrika. Op daardie stadium was ons op 1187 gevalle wat positief getoets het en een sterfte. Ek weet die situasie gaan nog versleg soos ek hierdie boodskap skryf, maar ek weet ook in my hart dat daar ‘n tyd gaan kom wat die situasie gaan verbeter. Ek skryf nou al vir jou vir daardie tyd. Moenie jou hoop verloor nie. Saam gaan ons die gevolge van hierdie vyand oorwin! 

Hierdie positiewe woorde mag dalk jou fokus rig op die lig aan die einde van die tonnel, na kwarantyn, afsondering, die afsterwe van ‘n geliefde, nadat jy genees het van die virus of na enige ander manier waarop die virus jou lewe affekteer het. Natuurlik is dit nie maklik om op te staan na ons platgeslaan is nie, maar om te bly lê is nie ‘n opsie nie.

Dink so daaraan. Wanneer daar ‘n stresvolle situasie in die toekoms opduik – jy kan dit hanteer, want jy het die Covid-19 noodtoestand oorleef!!! 

Selfs die donkerste nag het ‘n doel. Sodat jy die sterre op hul helderste kan sien skyn. 

Onthou altyd: na elke donker nag, skyn die son weer.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...