"Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing".
~ 2 Timoteus 1:7
Tog, is ons soms die oorsaak dat mense gebed eenkant toe skuif of afmaak as ñ heuning-om-die-mond gebaar juis wanneer hulle dit die nodigste het.
Om vir iemand te laat glo dat jy sekere seerkry of probleme wat oor hul pad kom gaan wegbid is soos om in ñ ontkenningsfase te verkeer, bly net bid "alles sal regkom".
Wanneer dit nie gebeur nie, los jy daardie persoon met ñ worsteling - hoekom was die gebed dan nou ongeldig of onbeantwoord? Was ek nie waardig genoeg vir hierdie gebed nie?
Ons hoop moet ons nooit beskaam nie. Daar is egter tye wat ons sekere realiteite in die lewe gaan ervaar, gekonfronteer gaan word met die onvermydelike. Sommige situasies en gebeurtenisse is wat hulle is. Die finaliteit daarvan kan nie ontken word nie.
Gebed is nie ñ vinnige spoeg-en-plak-alles-reg oefening nie. Gebed is ñ verhouding met God. ñ Langtermyn verhouding wat ook deur slegte tye kan gaan, soos enige verhouding.
Soveel seerkry is afkomstig van mensgemaakte foute. Ons eie of ander mense se foute. God het ons as mense die vryheid van ons eie keuses gegee. Hy staan nie in ons pad wanneer ons keuses maak nie. Ons keuses kan egter ons eie en selfs ook ander se toekoms en uitkyk op die lewe merkwaardig beïnvloed.
Gebed gaan nie noodwendig die keuses wat gemaak is se gevolge kan "undo"' nie, maar die krag van gebed moet nie onderskat word nie.
Gebed gee jou die geleentheid om ñ dieper verhouding met God te betree.
Gebed gee jou die vrymoedigheid om te vergewe en ook herinner te word van God se vergifnis vir jou.
Gebed kan dalk nie jou huidige situasie heel maak nie, maar gebed kan jou heel maak. Hoekom? Omdat gebed jou verhouding met God kan heelmaak.
"Ek bid vir jou"' en "ons bid saam" moenie ñ cliché of ñ heuning-om-die-mond kitsbelofte wees nie. Baie kere bid mens vir iemand en hul weet dit nie eers nie. Ek onthou hoeveel aande het ek my pa op sy knieë gevind in my tienerjare. Hy het my die vryheid van keuses gegee, maar ek is vas oortuig hy het sy knieë deurgebid vir my vir wysheid en ook vir my veiligheid.
Wanneer iemand sê hul bid vir jou ontvang dit as ñ seënwens en ñ versterking.
"Ek bid vir jou" moet vir jou genoeg krag gee om nog ñ tree te kan neem in die onbekende donkerte, wanneer jy self nie die krag het vir gebed nie, een voet voor die ander tot die lig weer deurbreek en tot jy kan getuig dat jy die storm oorleef het.
Wat dan nou as jy gereed voel om self te bid?
Die eerste tree tot die versterking van jou gebedsverhouding met God?
Om vir jouself te bid is eerstens om God in jou lewe te erken.
Tweedens, om alles uit jou hande oor te gee, want jy kan dit nie meer self dra nie.
God dra dit nou namens jou.
Derdens, om ń diepe verwagting en ñ begeerte te hê dat God dinge in jou lewe kán en gaan verander.
Die laaste punt waaraan ek wil raak wanneer ons kyk na gebed is die langtermyn verhouding wat ontwikkel tussen mens en God - ware gebed is gereelde gebed. Ongeag die "occation", "location"' of "dress code".
Laat ons gebede ons terugroep na die kruis toe. Ons sleutel wees tot bevryding van ons seer, ons gebrokenheid en ons vrees.
Kom ons bid saam.
~ TG
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking