Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Watter pad, Here?

Partykeer kom jy by voor ñ kruispad te staan in die lewe. Een waarvoor jy geweet het jy nié voorbereid is nie. Een wat jy gehoop het nooit jou pad sal kruis nie. 'n Pad totaal onbekend aan jou.

Vrees neem jou hart en gedagtes oor en skep ñ wye ompad van wantroue en jy is te bang om uit te vind wat wag agter die vurk in daardie pad.

Dan, op ñ dag, neem jy wel daardie pad. Hetsy uit vrye keuse of noodgedwonge, want jy het geen ander keuse nie. Party mense sal sê neem daardie pad een tree op ñ slag, maar daardie is baie groot, amper té optimistiese woorde, wanneer jy skielik op ñ kruispad beland.

Kom ons wees eerder maar eerlik. Jy mis so 'n paar tree. Ja, jou bene bewe. Hulle voel selfs lam. Jy val en rol en spring en tuimel en boonop klou jy net vas met mag en mening. Jou maag draai in duisend rigtings. Jy weet nie of jy kom of gaan nie. Jy weet skielik nie of jou naam Alan of Helen is nie. Gaan jy lewendig aan die anderkant uitkom?

Dis meer hoe daai kruispad lyk. Nie waar nie?

Dit voel nie of jy wen nie. Maar, een ding is verseker - jy weet wie stap voor jou, wie stap langs jou, wie stap agter jou en nog meer - wie dra jou. Elke tree van die pad.

Eendag mag jy dalk terugkyk op daardie kruispad, wat jy gedink het jy nie kan of wil nie stap nie, en skielik sien jy iets van jouself raak. Jy kyk in die spieël. Jy sien dat jy nie meer dieselfde mense is nie. Jy het gegroei. Jy het beleef. En waarlik... jy het wrintiewaar geleef.

Met ñ dankbare hart besef jy dat jy nie hoef terug te draai nie. Nou raak die pad meer egalig, meer een tree op ñ slag, minder val, minder tuimel en met die wete dat goeie dinge verseker op jou wag.

Jeremia 6:16 ~ "So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind..."

~TG

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...