Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Rooikop, dromer van my hart!

My rooikop, sproetgesig, blou-oog seun is sewe jaar oud. Hy is ‘n dromer. Met alle sekerheid, veilig om te sê, net soos sy ma.

Sy Juffrou vertel nou die dag vir my hoe baie oulik hy is. Ek beaam hoe soet hy is. Nee sê sy, hy is nie altyd soet nie, maar hy is wel altyd oulik.

Hy kan vir ure ronddans saam met sy splinternuwe vriend - sy verbeelding. Sy lippe beweeg en stories word gevorm op die hoeke van sy mond, maar saggies, want hy is nog nie bereid om hierdie groot avonture met iemand te deel nie.

Na ek so bevoorreg was om die naweek die Finesse “Ek wil, Ek kan, Ek sal” konferensie by te woon dink ek baie aan my klein dromertjie. 

Net voor die konferensie begin het, het ek ʼn notaboek by my Ma as geskenk gekry. Op die boekie staan die volgende geskrywe: “Let’s Dream, play and make some new memories together.”

Is hierdie nie ʼn mooi aksieplan nie?

Tussen vyf inspirasie-sprekers en ʼn (soms) onskuldige, droomverlore kind se ronddans kry ek my lewenslus terug.

My lewenslus om groot drome te droom.

My lewenslus om groot drome te praat.

Ellen Johnson Sirleaf se bekende aanhaling lees “If your dreams don’t scare you, they are not big enough.”

Magtig! Hoeveel keer hardloop ons weg van dit wat ons bang maak, wat ons gemaksone ruk? Hoeveel keer hardloop ons weg van ons eie drome af?

Net soos my seuntjie, is meeste van ons bang om ons drome hardop uit te spreek. Bang vir wat ander sal dink, bang vir oordeel, bang vir verwerping. Bang vir ons eie gedagtes. Bang vir die onbekende.

Ek sien my plig as ʼn ma raak teenoor my kleine dromer. Ek gaan hom moet wys dat sy drome groot waarde het.

Wat sal die beste manier wees om dit te doen? My persoonlike gevoel hieroor: deur ʼn voorbeeld te wees van ʼn pro-aktiewe dromer.

Een met ʼn beplan, ʼn tydspan, ʼn saamspan en die belangrikste: ʼn eindplan.

 

Ek is liries opgewonde oor ons drome. Vandag is tog die eerste dag van die res van ons lewe. Vandag tel. Elke tree, elke passie, elke teug. Kom ons asem dit in.

Wat is my droom vir my lewe?

~TG

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...