Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Watter klippie kies jy?

Tobia, ñ winkeleienaar, het swaar getrek as gevolg van omstandighede en het noodgedwonge sy winkel verkoop. 

Ongelukkig kom daar ñ skuldeiser aan sy deur klop om sy porsie op te eis. Tobia het regtig niks om vir die skuldeiser as betaling aan te bied nie.

Anandia, Tobia se dogter, is bekend in die dorp vir haar skoonheid en ook haar goedgesindheid.

Die skuldeiser maak vir Tobia ñ aanbod. Hy sal twee klippies in ñ sak gooi en indien sy dogter die grys klippie trek sal hy Tobia se skuld vereffen, maar indien Anandia die swart klippie trek, sal hy ook die skuld vereffen maar slegs as Anandia by hom kom woon.

Waar sy om die hoek staan en luister na die manne se gesprek sien Anandia hoe die skuldeiser twee swart klippies in ñ sakkie gooi. 

Hoe nou gemaak? Enige een van die twee klippies wat sy kan kies, sal veroorsaak dat sy by die man moet gaan woon. As sy altwee klippies terselfdertyd uithaal, sal Tobia weet die man het hom probeer kul, maar dan sal sy skuld steeds nie vereffen wees nie.

Waar Anandia nou voor haar vader en die slinkse besigheidsman staan, druk sy haar hand vinnig in die sakkie en kies ñ klippie. Toe haar hand uitkom, laat glip sy die klippie en dit val tussen die ander klippies in die paadjie. Sy sê vir die man sy per ongeluk die klippie laat val, maar hy kan net kyk na die kleur van die klippie wat agtergebly het in die sakkie, dan sal hy natuurlik weet watter kleur klippie sy gekies het. Die man weet dat hy in ñ hoek is, want as jy Anandia konfronteer, sal sy oneerlikheid oopgevlek word voor Tobia en sy reputasie in die dorp sal daarmee heen wees. Hy skryf Tobias se skuld af en verlaat die woning sonder Anandia.

Daar leef ñ les vir elkeen van ons in hierdie mooi, fiktiewe verhaal.
Een of ander tyd word elkeen van ons met ñ keuse gekonfronteer en soms lyk dit of daar geen uitkoms is nie. Daar is geen hoop aan die ander kant van die sakkie wat voor ons geplaas is nie. Eers as ons besef dat ons buite die sakkie moet dink, vind ons ñ oplossing, wat ons hoop kan herstel.

Met watter belangrike keuse word jy gekonfronteer? Watter klippie gaan jy kies? Of, sal jy, soos Anandia, die struikelblokke kan identifiseer en buite die sakkie dink?

Wat sê God se Woord vir ons oor hoop en die keuses wat ons maak?

In Genesis 13 vers 5-18 lees ons dat Abram as ‘n geseënde, ryk man terugkom uit Egipte uit, maar dat hy gekonfronteer word met die onverwagte uitdaging wat sy rykdom, asook ‘n botsing van belange met sy broerskind, Lot, inhou. Na 'n rusie tussen hul veëwagters plaasvind raak die situasie witwarm. Abram word gekonfronteer met hoe om hierdie krisis te hanteer, want grondbesit is 'n belangrike saak. Abram belê 'n gesprek tussen hom en Lot, waarin Abram beslis dat hul vreedsaam uitmekaar sal gaan en Lot natuurlik die beste deel van die land kies en Abram agtergelaat word met die minder gegoede, droë dele.
Abram se keuse om die saak vreedsaam te benader het tot gevolg ‘n verdere belofte van die Here. Abram erf hiermee ñ belofte - die hele aarde as sy erfporsie en sy nageslag erf die status as geseëndes van die Here.
In sy seer verloor Abram sy erfgenaam Lot, maar hy kry 'n hele nageslag erfgename by wat God aan hom beloof.
Ten spyte van die uitdagings wat ons daagliks beleef en die klippies wat in sakkies voor ons geplaas word, laat ons altyd onthou om vir God te kies. Dis slegs in Hom wat ons Hoop lê.

~ TG.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...