Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 07 April 2020

Wie ek? Goed genoeg?

Dalk het jy ook al gevoel jy is nie goed genoeg nie? Minderwaardigheid is ñ wapen waarmee jy, jouself maklik kan verwoes as jy nie versigtig is nie!

Waarom moet ons altyd ons self vergelyk met ander? Dis net so goed jy wil ñ resieskar gebruik om ñ 4×4 bospad aan te durf of ñ donkiekar om ñ spoedresies op Kyalami te wen. Hoekom kan jy nie so maer, ryk of populêr soos jou vriendin wees nie? Want, dis nie jy nie.

Het jy al ooit gewonder .... as God wou gehad het jy moet iemand anders wees of selfs net soos hulle wees, sou Hy ons tog seker almal presies dieselfde gemaak het? 

Wel, wees verras - Hy het nie. Ons liefdevolle, skeppende Vader, het elkeen van Sy kinders uniek gemaak. Ons elkeen is met ñ ander potlood geteken.

Ons lyk anders, dink anders, voel anders en doen anders. Raai wat? Dis okay!!!

Besef wat is jou doel op aarde en maak die beste daarvan. Jy kry immers net een lewe. Maak daardie keuse vir "jou beste lewe nou" vandag. Tersia, hoe moet ek die beste daarvan maak as my omstandighede dit nie toelaat nie, of ek byvoorbeeld nie geld het nie of nie die selfvertroue het of tyd het nie?

Dis die mooi deel daarvan. Jy moet werk met dit wat jy reeds het, net daar waar jy nou is in jou lewe. Maak die beste daarvan. 

Vind jou unieke doel. Miskien is dit om ñ tuisbly Mamma te wees. Jy dink dalk dat jy nie veel doel het om broodjies te pak elke oggend en te help met skoolwerk in die middae nie. Tog, is jy besig om aan jou kind se karakter te bou. Joel Osteen het ñ mooi verduideliking gegee... in die Bybel lees ons van die seuntjie wat se kosblik met broodjies en vis, die hele skare gevoer het, nadat Jesus die kos vermeerder het. Dink nou net as daai seuntjie se Mamma nie daardie oggend haar doel kom insien om ñ eenvoudige kosblik met vis en brood te pak nie? Dan het ek en jy nie vandag eers daai verhaal geken nie.

Jy werk dalk voltyds om die rekeninge te betaal, maar dis nie werklik jou passie nie. Tot daar kan jy jou unieke roeping aanwend. Dalk is jou roeping om komberse vir minder bevoorregtes te brei en jy kan jou kollegas aanmoedig om jou te help. Miskien is jy iemand by die werk se enigste steunpilaar en vriend.

Moenie soveel fokus op wie jy nié is of op wat jy nié het nie. Begin klein treetjies neem en fokus op wie jy wel is en wat jy wel het. Soveel minder druk, nie waar nie?

Ek is vas oortuig dat wanneer ons "live" voor God moet staan, Hy nie gaan vra wie het die duurste huis gehad, die vinnigste kar gery of selfs wie se klere was die mooiste nie. God gaan nie wonder oor wie die kompetisie gewen het of die bevordering gekry het of selfs wie se punte die beste was nie. Hy sal nie vra wanneer laas jy op vakansie oorsee was of hoe jou rapport gelyk het nie. Ja, prestasie is iets om op trots te wees, maar, jy moet weet - dis net ñ lekker "added bonus". Ek glo God gaan wel elkeen op die naam roep en vra of hy of sy hul roeping op aarde vervul het? Hetsy dit was om ñ sieke te versorg, broodjies te pak of om kollegas te ondersteun. As jy nogsteeds nie weet nie, bid daaroor, wat is dit wat jou uniek maak?

Groot of klein, jou doel het ñ doel. Sou die mooiste geboue regoor die wêreld ooit kon bestaan sonder daardie eerste ou wat die steen gepleister het? 

Ons lewens is almal op een of ander manier verbind, soos ñ legkaart wat ñ storie vorm. Tog, alhoewel elke stukkie van die legkaart perfek inmekaar pas om ñ groter prent te vorm, lyk elke liewe stukkie anders en enig in sy soort. Dink net, as elke stukkie van die legkaart baklei het om soos ñ ander stukkie te lyk, hoe skeef en gebroke sou die finale prentjie nie wees nie?

Groot of klein - laat jou liggie skyn.
Wees jý. Niemand anders kan nie.

~ TG.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...