Elke-Sekonde-Tel op Facebook - Kliek op die Sonneblom en "Volg" ons Blad!!!

Dinsdag 19 Mei 2020

Quit talking, begin doing...!

“The way to get started is to quit talking and begin doing.” 

– Walt Disney



The way to succeed is definitely seated in doing instead of talking.

De manier om te slagen zit beslist in het doen in plaats van praten.


Sondag 17 Mei 2020

Support each other

In these challenging times, please stay in touch with family and friends on a daily basis via phone. We need each other to stay positive and in good health and wellbeing.







Saterdag 02 Mei 2020

# MyStorie ... Verkeerde keuses, nie die einde van jou storie!







ñ Werksgeleentheid in die "beloofde land”, die antwoord op ons gebede. My man werk met ñ dankbare hart, maar die verlange raak swaar. Die visa is goedgekeur dat hy sy gesin kan saambring. Ek is ook ñ werk belowe deur die maatskappy. Soveel gebid. Die teks het telkemale na my toe gekom vanuit Jesaja 43.

“Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis..."

Hierdie het ek duidelik as ‘n teken gesien dat God vir ons ‘n pad maak in die woestyn en alles nuut gaan maak. Daar staan egter later in die hoofstuk hoe die Here jou sal lei deur die woestyn terug na jou geboorteland. Hierdie gedeelte wou ek dalk doelbewus ignoreer?

Die laagste oomblik? My werkloosheid
Die belofte het nie gerealiseer nie. Ons spaargelde reeds uitgeput. Ons was op ‘n punt waar ons nie die volgende maand se huur ten volle kon bekostig nie. Die eienaars van die huurhuis was welgestelde mense wat ‘n sekuriteitsbesigheid besit. Die volgende dag klop ñ wag aan my deur en die vrou staan daar. Die huurgeld is reeds vier dae laat. Ek verduidelik in ‘n bewende stem ons was dringend Suid-Afrika toe, vir my pa se roudiens, het sopas teruggekom. Ek voel soos ‘n stoute kind. Sy vra soveel vrae. Kyk my met valkoë aan. Yskoud. My mure verbrokkel, ek vertel haar die hele storie. Sy sien die beperkte meubels, die opblaas matrasse, die hoop skottelgoed.
Sy vertel vir my hoe die "beloofde land" verskil van Suid-Afrika. Daar is geen plek vir middelklas, jy is of ryk of arm. Tog, uit ‘n baie koue ontmoeting, ervaar ek ‘n ander kant van haar.

Sy deel iets persoonlik met my,  hoe haar eie kinderlewe geaffekteer is deur ‘n vennoot wat haar vader ingedoen het. Sy waarsku my om versigtig te wees. Ek word genooi om haar kantoor te besoek die volgende dag. Daai aand betaal ons die huur en bid vir ñ finansiële wonderwerk.
Die volgende dag drink ek koffie by haar kantoor, sy het iemand genooi wat in my bedryf werk, vra die dame om my te help werk soek. Ek gee my CV, maar dit lyk nie of daar hoop is nie.

Ons wonderwerk volg
Sy stel ons vry van die huurkontrak. Ons kan goedkoper verblyf soek. Tydens die laagste tyd in my lewe, toe ek skaam was vir my keuses en ook gebroke van verlies, het God vir my gewys, daar is vir my genade en vergifnis deur Hom. Daar is altyd ‘n uitweg, hoop en ‘n verwagting.

Ons vind ‘n twee slaapkamer woonstel in ‘n “estate” buite die dorp. Toe ons daar inry slaan dit my asem weg, die uitsig, asemrowend. Bosveld. Ek voel tuis. Ek ervaar vrede, verligting en dit voel vir my of ek nader aan God is.

Ek pas goed aan as ‘n tuisbly, alles-self-doen mamma. Dit hou my besig. Ek maak ‘n geldjie met aanlyn marknavorsing. 

Geleenthede is baie beperk aangesien die “beloofde land” nie veel toelaat. Die kerk is ñ toevlug en ek vind twee engele daar. ‘n Tuisbly ma, kunstenaar en uitgetrede sosiale werker, en ‘n tandarts wat op daardie stadium ook nie kon werk nie as gevolg van haar visa. Tee drink, raad oor tuisteskepper wees en hoe om die randjies te rek, trek my deur. ‘n Ou skoolkennis woon naby, ons word vriendinne. Ons kry die geleentheid om vir die langnaweek saam my man kus toe te gaan, ’n nodige wegbreek.

Hierdie is maar ñ stukkie van my storie. Goed en sleg.

Dinge het nie uitgewerk vir ons gesin in die "beloofde land" soos beplan nie.

Dit was nie die regte tyd vir my en die kinders om te trek nie. Vandag wil ek egter sê God het ons so lief dat Hy altyd vir ons keuses gee. As ek gekies het om in Pretoria te bly, was ons finansieël in ‘n beter posisie, was ons gesin baie trauma gespaar, maar dan sou ons aanhou verlang na ‘n man en pappa wat ver is, hy sou alleen wees, en dan sou ek alleen die dood van my pa moes verwerk. Wat sou dit aan my gedoen het as ek in Suid-Afrika gebly het en alleen deur daai verlies moes gaan sonder my man se liefde en ondersteuning? God het my teen ‘n ander tipe seerkry beskerm.

Na soveel probleme wat daarna gevolg het, is ons terug Suid-Afrika toe. Sonder spaargeld, sonder werk. Net met hoop in ons harte.

Ek kan nou terugkyk en reflekteer
Ons het dit wat verby is, agter ons gesit. Mense wat ons te nagekom het vergewe. Mekaar vergewe vir swak keuses. Ek besef nou hierdie is ons beloofde land, waar God ons geplaas het. Ek lewe dag vir dag, blom waar ek geplant is. Ek laat elke sekonde tel.
Wanneer ek na antwoorde soek, moet ek my eie stem stilmaak en God se Woord volledig interpreteer, nie net die deel wat my pas nie. Ek vertrou Hom. As jy foute maak, glo in tweede kanse, want God se arms is altyd oop vir jou.

©️ Tersia Gouws

Sondag 26 April 2020

Sondag, 26 April 2020

ñ Maand by die huis. Begin lockdown ook nou vir jou te lank voel?
Byt vas.

Op ñ ligter noot. Ek voel soos Zorro se sussie in my masker. 

Saterdag 18 April 2020

Covid-19 waar's jou angel?

Covid-19 waar's jou angel?
Jy steek my reg hier in my hart.
Jy sal nie wen nie
Al bring jy soveel smart.
Soveel om te verloor
My hart voel goor.
My gesin sal jou nie vrees nie.
Dis nie die einde nie.

Vrydag 10 April 2020

Nalatenskap van Covid-19?

Koors, vlak asemhaling, siekwees en selfs die dood. Indien jy hierdie simptome op die oomblik noem beskryf jy dalk die Covid-19 virus. As ek hierdie simptome noem, dink ek aan iets iets wat baie verder strek as ‘n virus.

Kom ons praat met erns oor die gevolge van hierdie toestand. Die monsters van vrees, sosiale afsondering, depressie, addisionele werkstres, verlies aan inkomste en ‘n steierende ekonomie. Die monsters van selfsug deur verspreiding van valse inligting, deur die rakke leeg te koop vir jouself, deur te gaan braai terwyl jy in afsondering moet wees, terwyl hoeveel mediese werkers hul lewens op die spel plaas vir hul medemens...

Is ons die produkte van ons eie skeppings?
Ons kan China blameer, na regte. Die waarheid is, ons – die hele mensdom – het die bal laat val. Meer as een keer. 
Die bal waarvan ek praat is natuurlik die Aarde. Sien Adam en Eva was geseënd toe God die wêreld geskape het. God het immers vir hulle twee, die perfekte aarde, op ‘n skinkbord gegee. Daar was net een voorwaarde. Klink nie moeilik nie, né? Wel raai wat, jy ken reeds die uitkoms van hierdie verhaal. Hul het die bal laat val. Die opdrag daarna was veel minder eenvoudig. Na die sonde het verantwoordelikheid ontstaan. Die mens moes sy eie weg baan op aarde, maar ook, na die Skepping omsien, die plante, diere en ook na mekaar.

Toe begin die mens sy eie weg baan, deur die eeue heen raak die mens al hoe slimmer, meer vaardig en tegnologies gevorderd. Die mens dink hy is verhewe bo alles. Rykdom, begeerte, hoogmoed en kompetisie. Met die druk van ‘n enkele knoppie kan die mens sy mag uitoefen. Geld wat mos stom is, maak alles reg wat krom is. 

Die mens laat val weer die bal. Die bal hop en hop en hop...

Leë winkelrakke, mense wat skarrel om kosvoorraad aan te vul, iemand kla hul eet gewoonlik net gesondheidsbrood, maar gryp die laaste drie brode op die rak vir hul trollie. My kinders moet ook eet, so ry ek nou maar na winkel nommer twee en drie, tot ek ‘n brood kry. Dis my verjaarsdag, ek doen nooit die partytjie-ding nie, tog minder opgewonde besluit ek om maar ‘n braai te hou. Die familie is genooi en net een paar vriende. Ons eet en kuier lekker, ek ontvang geskenke, die kinders baljaar in ‘n groep reg rondom die huis. Minwetend dat dit ons laaste samesyn sal wees vir ‘n lang tyd.  Die volgende aand bars die storm los oor ons koppe, Covid-19. Die skole moet vroeg sluit en ons moet sosiaal distansieër. Woensdag die 18de, ek word 35, die skole sluit. Ek kry geen toiletpapier te koop nie, 18 rolle op die 18de, vir my verjaarsdag, is dit te veel gevra? Ek begin stilweg bekommerd raak oor die vrees wat ek om my sien, oor die chaos en ook die selfsug.

Die aankondiging volg skaars ‘n paar dae later. Ons het 21 dae van afsondering, ja “lockdown” soos jul elkeen dit leer ken het. My hartswens is dat daardie 21 dae vir jou ‘n geleentheid gebied het om met die werklike Skepper van mens, dier, hemel en aarde te praat, om Sy hart raak te sien en Sy begeertes vir jou toekoms. Kom ek stel dit eenvoudig. Om jou prioriteite te verander, te minimaliseer, vir die onsekere toekoms wat wag. Om die bal weer op te tel. Voorwaardes?  Ja, as ons die bal optel, gaan ons nuwe foute begaan. Ons is immers mense, kreature van gewoonte en lustig vir gemak en sonde. 

My gebed vir elkeen van ons is dat wanneer ons die bal sal optel, ons nie sal regop staan en dit op die punt van ons vinger sal balanseer nie, maar dat ons op ons knieë sal bly met albei hande op die bal. Die bal stewig vashou, nie net met ons eie hande nie, maar ook saam met die hande van ander. Wanneer hierdie globale bal weer vir ons te swaar raak? Kom ons dra dan mekaar? Het jy nie dalk ‘n ekstra plekkie in jou huis gehad tydens Covid-19 vir iemand wat eensaam en alleen was nie? Toe Maria ver swanger was, kry sy en Josef by geen herberg ‘n plekkie nie. Niemand wil hulle en die ongebore baba Jesus inneem. Wil jy weet van afsondering, van verwerping, van alleenheid? Vra gerus vir Jesus, hy het ‘n hele verhaal om jou te vertel.
Die lewe soos ons dit ken, het verander. Kom ons wees in dankbaarheid daar vir mekaar.

Ons taak op aarde - addisioneel tot omsien na diere en die natuur: om mense aan ons Skepper voor te stel? Hoeveel tyd spandeer ons aan hierdie massiewe verantwoordelikheid wat aan ons toegeken is? Wie het jy al aan God voorgestel? Het hulle Hom deur jou leer ken, of het jy hul voorgestel aan oordeel en allerhande reëls rondom hoe ‘n Christen moet of nie moet optree?  Het hulle God se liefde, Sy aanraking deur jou gevoel, sy vrede in jou oë gesien? Was jy te besig met die pot aan die kook hou, die beleggings te vermeerder, die figuur mooi hou, oorsese vakansies op Facebook te plaas, jou geletterdheid op te skerp, soveel dat daar nie tyd was vir hierdie “ander mense” faktor nie? 

Mag die COVID-19 ons oë open tot meer, mag dit stof tot nadenke vir ons wees. Mag dit met elkeen van julle goed gaan en mag elkeen van julle daardie goedheid met iemand deel. Gedurende Covid-19 was ons meer hande as ooit tevore en ons vermy mekaar. Dalk, post-Covid, kan ons Jesus se voorbeeld volg. Hy was nie hande en vermy kontak nie, nee, Hy doen die volgende:

“As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het moet julle ook doen” ~ Johannes 13:14-15. 

Hoe volg ons ‘n nuwe benadering? 

In Johannes 13:34-35 gee Jesus die volgende opdrag aan Sy dissipels: 
“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Hierdie dissipelskap kan in ons woorde weerklank vind maar is meer waardevol as dit gesien kan word deur ons dade.
Voor ons Jesus kan leef moet ons regtig verstaan wie Jesus werklik is. Herontdek Sy Woord, interpreteer Sy gelykenisse. Woon kerkdienste by of kyk na geestelike materiaal aanlyn, sing tot Sy eer, verhef jou stem en loof sy Naam. Sit die verlede agter jou. Maak reg waar jy seergemaak het. 

Sê jammer. Vergewe. 
Begin oor. Gee meer. 

Wil jy weet waar jy moet begin? Begin deur lief te wees vir jouself. Jy is volgens God se volmaakte beeld geskape. Moenie daar stop nie want, self-liefde wat nie ontkiem en uitspruit nie, is gevaarlik.  Deel jouself, deel jou liefde, deel jou seëninge. Mense gaan jou veel meer waardeer as wat jy self ooit kan. 

Die nuwe jy gaan nuwe geleenthede raaksien om ander in liefde te dien. Die nuwe jy gaan God se goedheid en guns op nuwe maniere ervaar. Wees opgewonde!
Kan jou hart verander teenoor mense? Kan iemand waarvoor jy bid se gewoontes verander? Kan slegte situasies verander? Beslis, dit kan. Selfs die negatiewe nuus van Covid-19 het positiewe resultate gehad. 

In China het ‘n Ouma op 103-jarige ouderdom genees van die virus. ‘n Kliniek in Cleveland het spoedig ‘n nuwe toets ontwikkel wat binne ure toets in plaas daarvan om vir dae op uitslae te wag. Gesinne regoor die wêreld leer om weer tyd saam te spandeer en saam te bid vir die wêreld. Daar kom ligter ure in donker dae – mense dans op hul balkonne, die klanke van musiekinstrumente weerklink in die aand tydens afsondering.

In die wêreld gaan slegte dinge met ons gebeur, maar ons moet kies hoe ons daarop gaan reageer. Jou nuwe normaal, post-Covid-19, kan jy op ‘n positiewe manier aanpak en nuwe doelwitte vir jouself skep, volgens jou nuwe situasie. 

Skud jou virus depressie af en sit albei jou hande op die bal! Post-Covid, waar kan jy hulp aanbied, waar kan jy saambid, waar kan jy hulp ontvang?

Liewe Leser, ek het die bogenoemde geskryf op dag drie van Covid-19 afsondering in Suid-Afrika. Op daardie stadium was ons op 1187 gevalle wat positief getoets het en een sterfte. Ek weet die situasie gaan nog versleg soos ek hierdie boodskap skryf, maar ek weet ook in my hart dat daar ‘n tyd gaan kom wat die situasie gaan verbeter. Ek skryf nou al vir jou vir daardie tyd. Moenie jou hoop verloor nie. Saam gaan ons die gevolge van hierdie vyand oorwin! 

Hierdie positiewe woorde mag dalk jou fokus rig op die lig aan die einde van die tonnel, na kwarantyn, afsondering, die afsterwe van ‘n geliefde, nadat jy genees het van die virus of na enige ander manier waarop die virus jou lewe affekteer het. Natuurlik is dit nie maklik om op te staan na ons platgeslaan is nie, maar om te bly lê is nie ‘n opsie nie.

Dink so daaraan. Wanneer daar ‘n stresvolle situasie in die toekoms opduik – jy kan dit hanteer, want jy het die Covid-19 noodtoestand oorleef!!! 

Selfs die donkerste nag het ‘n doel. Sodat jy die sterre op hul helderste kan sien skyn. 

Onthou altyd: na elke donker nag, skyn die son weer.

Dinsdag 07 April 2020

Pa, jy verjaar, nie meer nie.


Pa, jy verjaar, vandag

Maar, vandag, verjaar jy nie meer.


Die vertrek is leeg, die foon is stil

Jy is nie meer hier nie

Al verjaar jy vandag, jy verjaar vandag,

net in Gees.

 

My hart is seer, maar

dis nie net my hart nie, ook

die van ander.

 

Ek huil saggies vandag, maar

so ook die ander.

 

Ons “celebrate” jou in gees,

al wens ons dat jy vandag hier

kan wees.


In ons harte sal vandag,

altyd, jou dag bly.

Ons onthou jou.

Die reuk van lemoene en mango. Warm melk en brood, laat-aand. Stories lees op jou skoot. Ek en jy, die 1995 rugby wêreldbeker eindstryd op die kassie kyk. Sonneblomme huistoe bring en sommer ook plant in die tuin. Klein voëltjies uit nessies geval, bring vir my, ek moet hul red. Staaltjies uit lank gelede. Knoffel, black label en kan ons tog maar so bietjie braai, want die familie kom. Oproepe op Sondae. Is alles okay en laat weet as ek kan help met iets... Stil in jou stoel.

Ek onthou jou nog. 

“Jesus said unto her, I am the resurrection, and the Life: he that believeth in Me, though he were dead, yet shall he live:

And whosoever liveth and believeth in me shall never die. Believest, thou this?” ~ John 11:25-26.

~TG

Goodness, onthou jy?

Deur te onthou, maak jy God se Goedheid ñ kragtig steunpilaar in jou lewe.

Het jy al ooit gevoel dat alle hoop verlore is vir jou? Naar geword van stres en vrees vir jou toekoms?

Jou verhoudings, gesondheid, jou werk, veiligheid... bedreig deur mense, geld, siekte...deur die gebrokenheid van hierdie wêreld.

Kan jy so ñ situasie onthou wat jy wel oorleef het? Waar God, groot in genade en getrouheid, liefdevol ingetree het tot jou redding?

Ek kan.

Meer as net een keer.

Net soos God vir die Jode ingetree het, in die boek Esther, het Hy al vele kere my seer in geluk laat verander en het my verlies en rou al in mooi tye uitgeloop.

Dit is vir my moeilik om regtig my hart, my persoonlike dinge te deel. Ek weet wel, deur dit nié te doen nie, keer ek iets moois wat moet gebeur. Ek keer die onthou van God se goedheid. Mens moet praat oor jou dinge al is dit vir jou hoe moeilik.

Ek het altyd gevrees vir die dag wat ek my ouers sou verloor, hoe ek daai seer sou hanteer, hoe ek sou ophou verlang, hoe ek myself sou verwyt vir dinge wat ek anders kon doen of sê, hoe ek nie alleen wou voel nie. Toe dit wel gebeur, toe my Pa oorlede is, was dit moeilik, seer, leeg, bitter, yskoud. Maar, ek was nie alleen soos ek altyd gevrees het nie. Ek was geseën met ñ gesin se liefde en ondersteuning. My man en pragtige kinders. Alhoewel hy al meer as drie jaar weg is, is daai leeg en koue gevoel van daai tyd weg. Dit voel vir my of hy wel elke dag nog hier reg by my is as ek aan hom dink. Ek onthou hom deur soveel wat ek in my susters, hul kinders en my eie kinders sien, wat my aan hom herinner. God het vir my gesëen met die onthou van Sy goedheid in my lewe.

Watter mooi het hieruit ontstaan? 

Ek het besef dat verskillende seisoene van my lewe verskillende mooi kan inhou. Ek het ook besef, dat die tyd vir aksie nóu is. 

Ten spyte van my massiewe vrees vir rejection en vir mense se judgement, het ek besluit om te wees wie ek is. Ek het my pen opgetel. Begin blog. Ek wou iets van myself deel al het ek nie geweet hoe of hoekom nie. Hier is ons nou. Dalk maak dit wat ek deel ñ verskil vir jou, dalk doen dit glad nie. Dalk reject jy my, dalk nie. Dis die ding, ek weet nie. En dis okay, al weet ek nie... ek gaan nie meer vrees vir rejection en vir judgement nie. Ek deel wat ek voel op my hart gelê word. Miskien eendag het iemand dit wat ek deel nodig. Miskien nie. Dis okay.

God het in my lewe al berge versit. 

Kan ek dit wetenskaplik bewys? 
Nee. Ek kan nie. 

Weet ek dit in my hart? 
Ja. Ek doen.

Vir my en jou is dit belangrik om daardie spesifieke oomblikke van goedheid te onthou. Dit is daardie spesifieke stories, klein of groot, wat my en jou getuienis is. Getuienis? Ja, getuienis is in my oë ons "onthou van God se goedheid"... ons kragtige baken van hoop as gelowiges. Ons kragtige wapen om hoop te deel met elke liewe persoon, wat dit so nodig het.

Hoe gaan ek en jy vandag tyd maak om God se goedheid, Sy geregtigheid, te onthou? Te deel? Te celebrate? 

"And all my life You have been faithful 
And all my life You have been so, so good 
With every breath that I am able 
Oh, I'm gonna sing of the goodness of God 
I'm gonna sing of the goodness of God  
I'm gonna sing, I'm gonna sing"
~ Bethal Music

Deel gerus hierdie artikel as dit op jou hart gelê is om so te doen vandag. Mag jy ñ mooi dag hê vol van God se goedheid, Sy liefde en Sy genade. 

~TG.

Wie ek? Goed genoeg?

Dalk het jy ook al gevoel jy is nie goed genoeg nie? Minderwaardigheid is ñ wapen waarmee jy, jouself maklik kan verwoes as jy nie versigtig is nie!

Waarom moet ons altyd ons self vergelyk met ander? Dis net so goed jy wil ñ resieskar gebruik om ñ 4×4 bospad aan te durf of ñ donkiekar om ñ spoedresies op Kyalami te wen. Hoekom kan jy nie so maer, ryk of populêr soos jou vriendin wees nie? Want, dis nie jy nie.

Het jy al ooit gewonder .... as God wou gehad het jy moet iemand anders wees of selfs net soos hulle wees, sou Hy ons tog seker almal presies dieselfde gemaak het? 

Wel, wees verras - Hy het nie. Ons liefdevolle, skeppende Vader, het elkeen van Sy kinders uniek gemaak. Ons elkeen is met ñ ander potlood geteken.

Ons lyk anders, dink anders, voel anders en doen anders. Raai wat? Dis okay!!!

Besef wat is jou doel op aarde en maak die beste daarvan. Jy kry immers net een lewe. Maak daardie keuse vir "jou beste lewe nou" vandag. Tersia, hoe moet ek die beste daarvan maak as my omstandighede dit nie toelaat nie, of ek byvoorbeeld nie geld het nie of nie die selfvertroue het of tyd het nie?

Dis die mooi deel daarvan. Jy moet werk met dit wat jy reeds het, net daar waar jy nou is in jou lewe. Maak die beste daarvan. 

Vind jou unieke doel. Miskien is dit om ñ tuisbly Mamma te wees. Jy dink dalk dat jy nie veel doel het om broodjies te pak elke oggend en te help met skoolwerk in die middae nie. Tog, is jy besig om aan jou kind se karakter te bou. Joel Osteen het ñ mooi verduideliking gegee... in die Bybel lees ons van die seuntjie wat se kosblik met broodjies en vis, die hele skare gevoer het, nadat Jesus die kos vermeerder het. Dink nou net as daai seuntjie se Mamma nie daardie oggend haar doel kom insien om ñ eenvoudige kosblik met vis en brood te pak nie? Dan het ek en jy nie vandag eers daai verhaal geken nie.

Jy werk dalk voltyds om die rekeninge te betaal, maar dis nie werklik jou passie nie. Tot daar kan jy jou unieke roeping aanwend. Dalk is jou roeping om komberse vir minder bevoorregtes te brei en jy kan jou kollegas aanmoedig om jou te help. Miskien is jy iemand by die werk se enigste steunpilaar en vriend.

Moenie soveel fokus op wie jy nié is of op wat jy nié het nie. Begin klein treetjies neem en fokus op wie jy wel is en wat jy wel het. Soveel minder druk, nie waar nie?

Ek is vas oortuig dat wanneer ons "live" voor God moet staan, Hy nie gaan vra wie het die duurste huis gehad, die vinnigste kar gery of selfs wie se klere was die mooiste nie. God gaan nie wonder oor wie die kompetisie gewen het of die bevordering gekry het of selfs wie se punte die beste was nie. Hy sal nie vra wanneer laas jy op vakansie oorsee was of hoe jou rapport gelyk het nie. Ja, prestasie is iets om op trots te wees, maar, jy moet weet - dis net ñ lekker "added bonus". Ek glo God gaan wel elkeen op die naam roep en vra of hy of sy hul roeping op aarde vervul het? Hetsy dit was om ñ sieke te versorg, broodjies te pak of om kollegas te ondersteun. As jy nogsteeds nie weet nie, bid daaroor, wat is dit wat jou uniek maak?

Groot of klein, jou doel het ñ doel. Sou die mooiste geboue regoor die wêreld ooit kon bestaan sonder daardie eerste ou wat die steen gepleister het? 

Ons lewens is almal op een of ander manier verbind, soos ñ legkaart wat ñ storie vorm. Tog, alhoewel elke stukkie van die legkaart perfek inmekaar pas om ñ groter prent te vorm, lyk elke liewe stukkie anders en enig in sy soort. Dink net, as elke stukkie van die legkaart baklei het om soos ñ ander stukkie te lyk, hoe skeef en gebroke sou die finale prentjie nie wees nie?

Groot of klein - laat jou liggie skyn.
Wees jý. Niemand anders kan nie.

~ TG.

Watter klippie kies jy?

Tobia, ñ winkeleienaar, het swaar getrek as gevolg van omstandighede en het noodgedwonge sy winkel verkoop. 

Ongelukkig kom daar ñ skuldeiser aan sy deur klop om sy porsie op te eis. Tobia het regtig niks om vir die skuldeiser as betaling aan te bied nie.

Anandia, Tobia se dogter, is bekend in die dorp vir haar skoonheid en ook haar goedgesindheid.

Die skuldeiser maak vir Tobia ñ aanbod. Hy sal twee klippies in ñ sak gooi en indien sy dogter die grys klippie trek sal hy Tobia se skuld vereffen, maar indien Anandia die swart klippie trek, sal hy ook die skuld vereffen maar slegs as Anandia by hom kom woon.

Waar sy om die hoek staan en luister na die manne se gesprek sien Anandia hoe die skuldeiser twee swart klippies in ñ sakkie gooi. 

Hoe nou gemaak? Enige een van die twee klippies wat sy kan kies, sal veroorsaak dat sy by die man moet gaan woon. As sy altwee klippies terselfdertyd uithaal, sal Tobia weet die man het hom probeer kul, maar dan sal sy skuld steeds nie vereffen wees nie.

Waar Anandia nou voor haar vader en die slinkse besigheidsman staan, druk sy haar hand vinnig in die sakkie en kies ñ klippie. Toe haar hand uitkom, laat glip sy die klippie en dit val tussen die ander klippies in die paadjie. Sy sê vir die man sy per ongeluk die klippie laat val, maar hy kan net kyk na die kleur van die klippie wat agtergebly het in die sakkie, dan sal hy natuurlik weet watter kleur klippie sy gekies het. Die man weet dat hy in ñ hoek is, want as jy Anandia konfronteer, sal sy oneerlikheid oopgevlek word voor Tobia en sy reputasie in die dorp sal daarmee heen wees. Hy skryf Tobias se skuld af en verlaat die woning sonder Anandia.

Daar leef ñ les vir elkeen van ons in hierdie mooi, fiktiewe verhaal.
Een of ander tyd word elkeen van ons met ñ keuse gekonfronteer en soms lyk dit of daar geen uitkoms is nie. Daar is geen hoop aan die ander kant van die sakkie wat voor ons geplaas is nie. Eers as ons besef dat ons buite die sakkie moet dink, vind ons ñ oplossing, wat ons hoop kan herstel.

Met watter belangrike keuse word jy gekonfronteer? Watter klippie gaan jy kies? Of, sal jy, soos Anandia, die struikelblokke kan identifiseer en buite die sakkie dink?

Wat sê God se Woord vir ons oor hoop en die keuses wat ons maak?

In Genesis 13 vers 5-18 lees ons dat Abram as ‘n geseënde, ryk man terugkom uit Egipte uit, maar dat hy gekonfronteer word met die onverwagte uitdaging wat sy rykdom, asook ‘n botsing van belange met sy broerskind, Lot, inhou. Na 'n rusie tussen hul veëwagters plaasvind raak die situasie witwarm. Abram word gekonfronteer met hoe om hierdie krisis te hanteer, want grondbesit is 'n belangrike saak. Abram belê 'n gesprek tussen hom en Lot, waarin Abram beslis dat hul vreedsaam uitmekaar sal gaan en Lot natuurlik die beste deel van die land kies en Abram agtergelaat word met die minder gegoede, droë dele.
Abram se keuse om die saak vreedsaam te benader het tot gevolg ‘n verdere belofte van die Here. Abram erf hiermee ñ belofte - die hele aarde as sy erfporsie en sy nageslag erf die status as geseëndes van die Here.
In sy seer verloor Abram sy erfgenaam Lot, maar hy kry 'n hele nageslag erfgename by wat God aan hom beloof.
Ten spyte van die uitdagings wat ons daagliks beleef en die klippies wat in sakkies voor ons geplaas word, laat ons altyd onthou om vir God te kies. Dis slegs in Hom wat ons Hoop lê.

~ TG.

"Hey, Smile" - man op die brug.


Ek wens ek het 'n foto geneem om die oomblik vas te vang, maar ek het nie. 

Na die heerlike reën bedaar het, ry ons op die snelweg oppad Menlyn toe.

In ñ (van my kant af) ernstige gesprek  oor my webtuiste se platform, wys my man vir my boontoe en sê ek moet bietjie daar lees.

Daar staan ñ oom op die Lynnwoodbrug, nee wag, eintlik staan hy nie, hy hang letterlik oor die brug bo die snelweg. 

In sy hand is ñ swart plakkaat met allerhelder kleure op geverf. Die lyne van die lewe word oral op sy gesig gelees. Maar, sy vrolike plakkaat lees: 

"Hey, smile".

Ek kyk hom hier ver van onder af diep, direk in verwondering aan. Hy is buite in die koue, waarskynlik het hy natgereën ook. Die lewe het hom nie onder gekry vandag nie.

In daai oomblik besluit ek om van alle onbenullighede te vergeet. Ek vind dankbaarheid in sy nederige gebaar. 

Meeste van die tyd vergeet ons, die antwoorde van die lewe is nie altyd duur nie, dit word nie behaal of gekoop in kursusse, intellektuele gesprekke of deftige byeenkomste nie. Nee, die antwoorde wat tel, vind jy in die eenvoudigste gebare, in die heel klein dingetjies.

Dankie "Hey, Smile"' oom op die Lynnwoodbrug. Jy het my dag gemaak. Jy het my herinner om te fokus op dit wat tel. 

Dadelik dink ek sommer aan my vriendin, M, wat in die buiteland woon. 

Hoe ver sy op die oomblik van my af mag wees, tel sy op dat my gemoed op n stadium laag is en dat ek net moeër as standaardgraad moeg is. 

Sy daag my uit om elke dag ń foto van myself te neem waar ek glimlag vir 30 dae lank en vir haar te stuur. Ek stem in, maar begin dit nooit doen nie. 

Vandag herinner "Hey, Smile" my daaraan en ek besluit môre stuur ek my eerste glimlagkiekie vir haar. Kom ons noem dit sommer "smile rehab"' en wie weet, dalk doen dit vir haar net so goed soos vir my.

Ek vra jou: met wie gaan jy vandag ñ glimlag deel? 

"ñ Vrolike mens is ñ gesonde mens, ñ neerslagtige mens raak uitgeput ~ Spreuke 17:22"

NS. Na die skryf van hierdie plasing het ek ñ artikel van Mia Spies gevind oor hierdie man. Lees gerus hier:
https://blog.solidariteit.co.za/geinspireer-om-te-inspireer-op-die-strate-van-pretoria/?fb_action_ids=10157965858530898&fb_action_types=og.comments&fb_source=other_multiline&action_object_map=%5B2144256078945711%5D&action_type_map=%5B%22og.comments%22%5D&action_ref_map=%5B%5D

Interessant om uit te vind ons het op dieselfde dorpie skoolgegaan.

Hoop op jou Ashoop

"Jy is goed genoeg."

Makliker gesê as gedaan. 

"Skryf dan iets." Maak ñ verskil. "Ek kan nie."

Die duiwel kry soms ñ gerieflike plek op my skouer waar ek twyfel, vrees, seer en gemaksug toelaat om woorde van wanhoop in my oor te fluister.

Waar ek soveel het om voor dankbaar te wees en is, maar ñ totale anti-klimaks in sekere areas van my bestaan ervaar. Ek wil my pen optel en stories skryf wat inspireer, maar hoe kan ek as wanhoop aan die binnedeur klop. As my mense op die ashoop rondgesaai lê... ñ diensbare, omgee-mens wat haar lieflingskind aan die dood afstaan, ñ jarelange hartsvriendin wat haar lewensmaat skielik verloor, ñ ander maat wie se vriend vermoor is, ñ geliefde se seer en so raak die lysie van mismoedigheid net al hoe langer. 

Die onmin-saaier op my skouer glimlag al hoe breër soos ek verdrink in my eie vrees en twyfel.

Die lewe is nie regverdig nie. Dis nie maklik nie. Die lewe volg nie altyd ons aanwysings nie. Hoe kan ek wil kom praat oor seisoene as daar soveel rou seer is, as ons land soveel in negatiewe dade gedompel is, as ek self nie weet of daar ñ môre gaan wees nie? As probleme langtermyn om ons rondslinger.

Dit het my gekeer om te skryf, want wat sê ek? Wie sal luister? Wie is ek om dit te wil probeer beter maak met praat, mooi versies te wil neerpen, as dit nie gaan help nie? Hoe kan ek wil skryf oor liefde of geluk of selfs genesing? Iemand het gesê tyd sal genees, maar wie sê ons het tyd? Dis die een aardse bate waaroor ons absoluut geen beheer het nie.

Toe klap ek die onmin-gedoende van sy troon af, met volle Jesus krag. Hier gaan jy nie langer sit nie. Ek sal nou my pen optel, want al het ek nie pleisters vir die seer nie, het ek ñ getuienis. 

"I'm no longer a slave to fear, I am a child of God." ~ Bethel Music.

Sien, een belangrike ding het ek wel geleer, by elke afvlerk, gebreekte medemens kry ek die een antwoord, dieselfde antwoord, wanneer alles net hopeloos te hopeloos raak. Dit was ook my antwoord toe tye vir my hopeloos en donker geraak het. Dit is ook my antwoord as angs my vasdruk en ek nie kan beweeg nie: Een dag op ñ slag. Dag tot dag. Tree vir tree. Sekonde vir sekonde.

Dit is wat ware Hoop is. 

Wanneer jy geen meer rede het tot hoop nie, maar jy hoop tog, jy hou tog vas, jy bly beweeg, van asemteug tot asemteug. Een voet voor die ander. Een tree op ñ slag.

Die merke is daar. Dit word deel van jou.

Maar, een oggend word jy wakker. Dankbaar, vol vrede, jy het dit gemaak. Jy is vry. Jy kan weer asemhaal. Dis jou tweeede kans.

Opgedra aan elkeen wat seer het.
"Just like there's always time for pain, there's always time for healing." ~Jennifer Brown

Hardloop jou "megabytes" uit?

Twee jaar gelede woon ons nog in Windhoek in ń huis wat met koopkrag meters werk. Alhoewel die winter redelik warm is in Windhoek, het ons daardie week ñ uitsonderlike koue week gehad, met vroegoggendtemperature van tot minus 8 grade.

My seun was op daardie stadium vyf jaar oud en is nogal ń bekkige outjie. Te bekkig soms.

My man was min by die huis weens werksverpligtinge en omdat ons nie familie naby gehad het wat kan uithelp nie het ek elke liewe ruskans, soos in die geval, ñ warm bad, waardeer. Maar, soos jul ook seker al ervaar het, kinders los jou nie sommer alleen wanneer jy wel wil alleen wees nie.

Ek lê in die heerlike warm bad, hy klop aan die deur en sê vir my: "Mamma, jy beter nou gou-gou klaar bad, want ek gaan nóú die lig afsit, die "megabytes" is amper klaar."

Ons kan so lekker lag vir die onskuldige kinderlike wyshede wat tog soms ietwat waarhede kan inhou. Net soos daardie dag, twee jaar terug, is dit nou weer Augustus-maand... ons almal is op ons mid-winter "blues". 

Hardloop jy dalk ook vandag uit "megabytes" uit?

Het jy al die vreugde en vrede in jou hart ervaar van wanneer God jou nuwe krag gee?

Kyk wat sê God vir ons, ñ boodskap so spesiaal en direk, in 1 Petrus 5 vers 10:

"God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Mag God jou nuwe krag gee, vir die volgende seisoen in jou lewe.

Mag hierdie nuwe Lente seisoen, wat voor die deur staan, vir jou net liefde, vreugde en vrede inhou. Baie uit-die-maag-uit lag oomblikke en soete herinneringe van die geliefdes wat jou moontlik reeds verlaat het en ook mooi tye saam die wat nog by jou kan wees.

Geniet ñ wonderlike week. Drink daai ekstra koppie koffie, eet daai stukkie chocolate koek... die lewe is kort. Kom ons gebruik vandag al ons "megabytes" vir vandag klaar voor die lig afgaan.

Seënwense.

Hierdie plasing is opgedra aan my Ma, Leah, omdat hierdie haar gunsteling staaltjie is.

~TG

Gebed of Cliché?

"Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing". 

~ 2 Timoteus 1:7

Ek glo in gebed en ek glo ook vir God is niks onmoontlik nie. 

Tog, is ons soms die oorsaak dat mense gebed eenkant toe skuif of afmaak as ñ heuning-om-die-mond gebaar juis wanneer hulle dit die nodigste het.

Om vir iemand te laat glo dat jy sekere seerkry of probleme wat oor hul pad kom gaan wegbid is soos om in ñ ontkenningsfase te verkeer, bly net bid "alles sal regkom".

Wanneer dit nie gebeur nie, los jy daardie persoon met ñ worsteling - hoekom was die gebed dan nou ongeldig of onbeantwoord? Was ek nie waardig genoeg vir hierdie gebed nie?

Ons hoop moet ons nooit beskaam nie. Daar is egter tye wat ons sekere realiteite in die lewe gaan ervaar, gekonfronteer gaan word met die onvermydelike. Sommige situasies en gebeurtenisse is wat hulle is. Die finaliteit daarvan kan nie ontken word nie.

Gebed is nie ñ vinnige spoeg-en-plak-alles-reg oefening nie. Gebed is ñ verhouding met God. ñ Langtermyn verhouding wat ook deur slegte tye kan gaan, soos enige verhouding.

Soveel seerkry is afkomstig van mensgemaakte foute. Ons eie of ander mense se foute. God het ons as mense die vryheid van ons eie keuses gegee. Hy staan nie in ons pad wanneer ons keuses maak nie. Ons keuses kan egter ons eie en selfs ook ander se toekoms en uitkyk op die lewe merkwaardig beïnvloed.

Gebed gaan nie noodwendig die keuses wat gemaak is se gevolge kan "undo"' nie, maar die krag van gebed moet nie onderskat word nie. 

Gebed gee jou die geleentheid om ñ dieper verhouding met God te betree. 

Gebed gee jou die vrymoedigheid om te vergewe en ook herinner te word van God se vergifnis vir jou. 

Gebed kan dalk nie jou huidige situasie heel maak nie, maar gebed kan jou heel maak. Hoekom? Omdat gebed jou verhouding met God kan heelmaak.

"Ek bid vir jou"' en "ons bid saam" moenie ñ cliché of ñ heuning-om-die-mond kitsbelofte wees nie. Baie kere bid mens vir iemand en hul weet dit nie eers nie. Ek onthou hoeveel aande het ek my pa op sy knieë gevind in my tienerjare. Hy het my die vryheid van keuses gegee, maar ek is vas oortuig hy het sy knieë deurgebid vir my vir wysheid en ook vir my veiligheid. 

Wanneer iemand sê hul bid vir jou ontvang dit as ñ seënwens en ñ versterking. 

"Ek bid vir jou" moet vir jou genoeg krag gee om nog ñ tree te kan neem in die onbekende donkerte, wanneer jy self nie die krag het vir gebed nie, een voet voor die ander tot die lig weer deurbreek en tot jy kan getuig dat jy die storm oorleef het.

Wat dan nou as jy gereed voel om self te bid? 

Die eerste tree tot die versterking van jou gebedsverhouding met God? 

Om vir jouself te bid is eerstens om God in jou lewe te erken. 

Tweedens, om alles uit jou hande oor te gee, want jy kan dit nie meer self dra nie. 
God dra dit nou namens jou. 

Derdens, om ń diepe verwagting en ñ begeerte te hê dat God dinge in jou lewe kán en gaan verander.

Die laaste punt waaraan ek wil raak wanneer ons kyk na gebed is die langtermyn verhouding wat ontwikkel tussen mens en God - ware gebed is gereelde gebed. Ongeag die "occation", "location"' of "dress code".

Laat ons gebede ons terugroep na die kruis toe. Ons sleutel wees tot bevryding van ons seer, ons gebrokenheid en ons vrees.

Kom ons bid saam.

~ TG

Wie is ek, Here?

Dis in "plain" engels "date night" en ek is vreeslik opgewonde. Dit gebeur dalk een of twee keer ñ jaar. Ons is gelukkig om plek te kry by ñ deftige restaurant saam met hartsvriende.

Ek gaan staan buite by die trap om te rook. Daar is wel ñ rookarea in die restaurant, maar ek besluit teen dit om daar te gaan staan.

Ek kom uit ‘n familie van nie-rokers. Sedert ek laasjaar die gewoonte hervat het, moet ek oop wees vir kritiek oor my slegte gewoonte. 

Daar stap ñ dame verby, sy glimlag vir my, ek herken haar nie dadelik nie, maar dis iemand wat ek as ‘n rolmodel beskou. Sy is grasieus en haar oë sprankel met vriendelikheid. Ek voel baie verleë. Ek ken al die klagtes rondom etiket vir rokers, veral in openbare plekke. Hoe dan anders, my familie herinner my gereeld... Kon ek nie maar iewers anders gaan staan en rook nie? berispe ek myself. 

Intussen gebeur iets moois om my. My vriendin (‘n nie-roker wat braaf die koue saam my aandurf) staan langs my. ‘n Man probeer ‘n versameling klein winkeltrollies teen die steilte opstoot. Hy sukke sonder sukses. Sy tree vorentoe en help hom uit sy penarie uit. Ek word teruggeroep tot realiteit. 

Gebeur dit nie soms met ons almal nie? Ons is so vasgevang in die “eie-ek” dat ons die geleentheid mis om iemand te help, om ander se behoeftes raak te sien. 

ñ Paar weke later konfronteer ek ñ totale ander scenario, soveel kritiek van mense, jy kan die beste intensies hê, iets goed probeer doen, sommige mense sal altyd iets kry om jou oor te kritiseer. Ek voel seergemaak, teleurgestel in die mensdom en ek sal dit maar sê - ek voel kwaad. Te midde die scenario verloor ek daardie middag amper my kalmte van gees. Dis mos so maklik om jou sê te sê en jou poppe uit die stootwa te gooi. 

Stop. 

Daardie spesifieke oggend het daar ñ vers in my kop bly opkom - asof God  geweet het ek gaan dit nodig kry - "Be still and know that I am God". Ek byt op my tong, ek moet stil wees, eers dan sal God se volle plan in werking kan kom. 

Dit was toe natuurlik ook waar. 

Die volgende dag kom daar soveel seën op my pad. Deure gaan skielik oop. Ek besef net daar dat ek slegs ñ kanaal kan wees vir God se goeie werke as die kanaal oop en skoon is, vry van twyfel, vrees en negatiewe denke.

ñ Ruk terug het ek geskryf "Watter pad, Here?" tog moet ek eers besef wie ek is voor ek ñ pad kan kies.

Dit is wat dit so moeilik maak. Ek struikel so baie in my sondige natuur, my denke en my hardkoppigheid...dit maak die beeld soms onduidelik... wié is ek nou eintlik Here?

Daardie identiteit is slegs te vinde in die volgende vraag: Wie is ék in Christus?

Ek voel soms soos Moses, die woorde wil nie uitkom nie, ek twyfel in myself, kryp dalk agter my broer weg. Hoe kan ek dan nou ñ gebore leier wees? Ek, die rebel? Ek is glad nie die voorbeeld van goeie leierskapmateriaal nie.

Dan gaan my gedagtes weer na Jesus. Ek het tog gevra wie is ek in Christus? 

Ek dink aan Jesus wat soveel wysheid gehad het oor wat reg is, oor wat edel, aanneemlik en prysenswaardig is, tog, het Hy ook geen oordeel uitgedeel nie en sy tyd saam menige sondaars spandeer. Jesus was nie bang vir lang kronkelpaaie en vuil hande nie. Die hande was tog net die uiterlike, want die hart, Sý hart was suiwer, ja sommer silwerskoon en skitterblink.

Ek besef toe Wie ék is, want ek het besef wie Hý is. Ten spyte van my tekortkominge, ten spyte van my kronkelpaaie, kan ek met ñ geruste hart weet -

Ek ís ñ Oorwinnaar in Christus! So ook jy!

~TG

NS. Ek het intussen ophou rook. Beste besluit ooit! Ek mis egter die sosiale interaksie wat ek met soveel vreemde mense gehad het tydens my tyd as ñ roker. Al die verhale en staaltjies uit hul lewens.

Watter pad, Here?

Partykeer kom jy by voor ñ kruispad te staan in die lewe. Een waarvoor jy geweet het jy nié voorbereid is nie. Een wat jy gehoop het nooit jou pad sal kruis nie. 'n Pad totaal onbekend aan jou.

Vrees neem jou hart en gedagtes oor en skep ñ wye ompad van wantroue en jy is te bang om uit te vind wat wag agter die vurk in daardie pad.

Dan, op ñ dag, neem jy wel daardie pad. Hetsy uit vrye keuse of noodgedwonge, want jy het geen ander keuse nie. Party mense sal sê neem daardie pad een tree op ñ slag, maar daardie is baie groot, amper té optimistiese woorde, wanneer jy skielik op ñ kruispad beland.

Kom ons wees eerder maar eerlik. Jy mis so 'n paar tree. Ja, jou bene bewe. Hulle voel selfs lam. Jy val en rol en spring en tuimel en boonop klou jy net vas met mag en mening. Jou maag draai in duisend rigtings. Jy weet nie of jy kom of gaan nie. Jy weet skielik nie of jou naam Alan of Helen is nie. Gaan jy lewendig aan die anderkant uitkom?

Dis meer hoe daai kruispad lyk. Nie waar nie?

Dit voel nie of jy wen nie. Maar, een ding is verseker - jy weet wie stap voor jou, wie stap langs jou, wie stap agter jou en nog meer - wie dra jou. Elke tree van die pad.

Eendag mag jy dalk terugkyk op daardie kruispad, wat jy gedink het jy nie kan of wil nie stap nie, en skielik sien jy iets van jouself raak. Jy kyk in die spieël. Jy sien dat jy nie meer dieselfde mense is nie. Jy het gegroei. Jy het beleef. En waarlik... jy het wrintiewaar geleef.

Met ñ dankbare hart besef jy dat jy nie hoef terug te draai nie. Nou raak die pad meer egalig, meer een tree op ñ slag, minder val, minder tuimel en met die wete dat goeie dinge verseker op jou wag.

Jeremia 6:16 ~ "So sê die Here: Staan by die kruispaaie en kyk, en vra na die ou paaie. Vra watter pad die beste is en loop dit, dan sal julle rus vind..."

~TG

Lewe voluit, volkleur!

Die Forrest Gump-karakter se bekende slagspreek lui as volg: "Mama always said life was like a box of chocolates. You never know what you're gonna get."

Ek het ñ ander siening oor my lewe. Die geleentheid om te lewe is meer soos ñ boksie Smarties vir my: "Wotalotigot".

As ons altyd fokus op wat ons nié het nie gaan ons altyd bekommerd wees oor wat ons nié het nie. Hoe geseënd is ons? Jy sit dalk nou in jou piepklein, beknopte huisie en lees hierdie artikel. Dalk sit jy daar met ñ muur vol fotos van jou geliefdes, en dis dalk ñ klein muur maar jy sit en bekyk die muur met ñ hart vol liefde. As dit die geval is, het jy alreeds alles. 

Miskien sukkel jy om kop bo water te hou of om ‘n teleurstelling te oorkom. Maak nie saak wat die situasie is nie, iewers is daar iets positiefs te vinde.

Moenie my verkeerd verstaan nie - ek sê nie daar is iets fout met rykdom of ñ groot huis nie. Ek weet net hoe dit voel om soms moedeloos te raak met mens se omstandighede. Hetsy dit jou werk, huwelik, geloof, studies, gesondheid of selfs ouerskap is. Die lewe is nié maklik nie!

Jy sien, ons as mense is nie juis altyd dankbaar nie en as ons is, wys ons dit nie altyd vreeslik graag nie. Ons is ñ trotse en selfs hardkoppige spesie.

Somtyds blaai ek deur sosiale media en dan sien ek die "sugar coat" op ander Smarties se lewens. Die tuisbly mammas wat tyd het om betrokke te wees by soveel dinge waarop ek uitmis, die bikini lyfie meisies, die uitblinkers, die mammas met die weeklikse spa daggies en oorsese vakansies, die enkellopendes wat kan kies waarop hulle tyd en geld wil bestee, die jonger generasie se skoonheid en energie, die tyd wat verby vlieg... Dit is maklik om sommer depressief te raak. 

Onthou net een ding, ander kyk ook in jou "suger coat" vas. Dit wat jy as vanselfsprekend, minder glansryk, nietig of selfs nutteloos ervaar in jou eie lewe is vir die volgende ou dalk ñ groot hunkering of ñ ontoereiklike droom of, seëning. 

Hoe lewe ons saam in ñ wêreld waar ons dan soveel verskil? 

Dis eintlik baie maklik. Aanvaarding.

Elke Smartie het sy plekkie in die boksie van die lewe. Elke Smartie is uniek. Elke Smartie het iets soets aan die binnekant, ongeag die kleur en geur van sy "sugar coat."

 

Ek laat jou met die volgende gedagte: 

 

Wat is ñ goeie lewe? As jy gereeld kan glimlag, groot kan droom, baie kan lag en kan besef hoe geseënd jy is met wat jy het, dán het jy ñ goeie lewe.

Hierbo is ñ foto van my gesin. Ek is trots om hierdie stukkie van my menswees met jou te kan deel. Dit is hierdie drie suikersoet-aan-die-binnekant Smarties wat kleur bring in my lewe. Dankie aan Lee Kleingeldt Fotografie asook Ramé Party Venue in Springs, Gauteng vir die pragtige foto geleentheid. Ons is voorwaar geseënd.

Dankie Liewe Heer vir die geleentheid om te kan lewe. "Wotalotigot".

Rooikop, dromer van my hart!

My rooikop, sproetgesig, blou-oog seun is sewe jaar oud. Hy is ‘n dromer. Met alle sekerheid, veilig om te sê, net soos sy ma.

Sy Juffrou vertel nou die dag vir my hoe baie oulik hy is. Ek beaam hoe soet hy is. Nee sê sy, hy is nie altyd soet nie, maar hy is wel altyd oulik.

Hy kan vir ure ronddans saam met sy splinternuwe vriend - sy verbeelding. Sy lippe beweeg en stories word gevorm op die hoeke van sy mond, maar saggies, want hy is nog nie bereid om hierdie groot avonture met iemand te deel nie.

Na ek so bevoorreg was om die naweek die Finesse “Ek wil, Ek kan, Ek sal” konferensie by te woon dink ek baie aan my klein dromertjie. 

Net voor die konferensie begin het, het ek ʼn notaboek by my Ma as geskenk gekry. Op die boekie staan die volgende geskrywe: “Let’s Dream, play and make some new memories together.”

Is hierdie nie ʼn mooi aksieplan nie?

Tussen vyf inspirasie-sprekers en ʼn (soms) onskuldige, droomverlore kind se ronddans kry ek my lewenslus terug.

My lewenslus om groot drome te droom.

My lewenslus om groot drome te praat.

Ellen Johnson Sirleaf se bekende aanhaling lees “If your dreams don’t scare you, they are not big enough.”

Magtig! Hoeveel keer hardloop ons weg van dit wat ons bang maak, wat ons gemaksone ruk? Hoeveel keer hardloop ons weg van ons eie drome af?

Net soos my seuntjie, is meeste van ons bang om ons drome hardop uit te spreek. Bang vir wat ander sal dink, bang vir oordeel, bang vir verwerping. Bang vir ons eie gedagtes. Bang vir die onbekende.

Ek sien my plig as ʼn ma raak teenoor my kleine dromer. Ek gaan hom moet wys dat sy drome groot waarde het.

Wat sal die beste manier wees om dit te doen? My persoonlike gevoel hieroor: deur ʼn voorbeeld te wees van ʼn pro-aktiewe dromer.

Een met ʼn beplan, ʼn tydspan, ʼn saamspan en die belangrikste: ʼn eindplan.

 

Ek is liries opgewonde oor ons drome. Vandag is tog die eerste dag van die res van ons lewe. Vandag tel. Elke tree, elke passie, elke teug. Kom ons asem dit in.

Wat is my droom vir my lewe?

~TG

Onder in my winkelsak


Onderwerpe waaroor ek skryf het meestal te make met my eie belewenisse, probleme, foute en ook die klein allerdaagse dinge waarin ek hoop vind.

Dit was Woensdag. Wag... meer soos Flaterdag vir my.

Energie laag. My tyd misreken. Al hoop... die molshoop van die oomblik. 

Ek probeer die flenters van my ongeorganiseerde dag aanmekaar las soos duisende fyn stukkies glas met superglue.

So hier is dit. Tyd was nie my vriend nie. Flater A: my etes vir die dag, kosblikke en al, in ñ plastiek winkelsak. Nog nie klaar nie. Flater B: my oefenklere in ñ ander ewe wit, blou en rooi plastiek winkelsak. 

Teen die middag oorweeg ek om eerder gym te los, maar ek weet oefening laat my altyd beter voel, veral na ñ moeilike dag. Ewe braaf trotseer ek die gym met my blink winkelsak. Ek bêre hom trots in die rakkie tussen die ander dames se ontwerper oefensakke.

Dis eers toe ek natgesweet en moeg huistoe ry dat ek besef watter lewensles daar onder in my winkelsak lê. Skielik is die sak vir my goudwerd. 

Ek besef vir die eerste keer dat God nie omgee in watter sakke ek my lewe probeer bymekaar hou nie. Die boodskap is duidelik tussen wit, rooi en blou plastiek versteek. Dinge mag dalk nie vandag uitwerk soos jy beplan het nie. Maar, daar is een groot geskenk in vandag. Jesus. Ons tekortkominge is uitgewis. Dis die ware oorwinning.

Ek kry krag onder in my winkelsak. Die wete dat God daar is, ongeag watter etiket vandag oor my skouer mag hang.

~ TG.

Honger, jy?

Dit is een deurmekaar, gejaagde oggend. Die oomblik toe my kar se wiele stop, stop my gedagtes ook by iets. Daar speel ‘n geestelike liedjie op die radio en die volgende gedagte bly vashaak in my kop… ons het daagliks kos vir die siel nodig. Omdat ek ʼn skrywer is bly dit nie net daar nie. Terwyl ek stap top ek oor die bewoording van die onderwerp… kos vir my siel, kos vir ons siele of kos vir jou siel… wat sal die tema met die meeste impak wees?

My gedagtes raak koud. Langs my in die pad lê ʼn man. Ek glo hy het die aand daar geslaap. Wel, ek neem aan dit is ʼn man, want ek kan nie sy gesig sien nie. Al wat uitsteek onder die massas komberse is 'n paar tekkies en ʼn piesang wat nog nie aan geëet is nie. Ek besef – dit is nie nét ek wat kos vir my siel nodig het nie.

Hoekom het die onderwerp my so vasgeboei? Die rede is die gejaag. Ons lewe elke dag en ons probeer natuurlik om dit elke dag reg en na die beste van ons vermoë te doen. Maar, ons maak nie elke dag genoeg tyd om ons siele te voed nie. Geestelike kos. Dit is waarna ons smag. Dit is waarvoor ons honger is. Lus kan aangevul word met aardse kos. Honger het egter net een antwoord – geestelike kos. 

Ek gaan soek in my Bybel rond, want ek voel uitgehonger. Die kos kry ek toe in die hele Lukas 12 waar vertel word hoe God vir die amper “waardelose” mossie sorg. Graag deel ek ‘n klein stukkie van die voedsel met julle: “… Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle 'n beurs aan wat nie leeg raak nie, 'n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand...!”

Ek weet ons werk nog aan die nuwejaarsvoorneme, ek weet sommige moes ons al laat vaar omdat daar ander prioriteite is en tyd ontbreek. Stop. Dink mooi hieroor. Waar op die prioriteitslys pas geestelike kos? Het ons hom ooit daar ingewerk? Het ons ooit besef hoe belangrik dit sal wees?

Waar ookal jy is vandag. Waarmee jy ookal besig is vandag. Stop.

Maak tyd vir jouself en God en ook gesinstyd saam met God.

Ons is so leeg, so honger. Kom ons wees gevoer met die regte kos.

Die kos vir ons siele.

~ TG.

Mamma, een uit ñ miljoen!


Mamma, een uit ñ miljoen...

Ek skat die wêreld is net te besig vir my. Al die nuus, probleme, uitdagings en afsprake... Ek wil net vir so ñ klein rukkie vlug. Ek wil gaan wegkruip in my mamma-grot en my wonde lek. Ek wil rus en kragte ophou voor ek weer breë bors die wêreld aanpak.

Dis seker nou nie regtig só erg nie, maar daar steek tog ñ mate van waarheid hierin.

Elke mamma het ñ breek nodig. Elke mamma het bietjie eie-ek tyd nodig... op ñ gereelde basis.

Februarie word dikwels beskryf as die maand van liefde. Kom ons wees ook lief vir ons eie-ek hierdie maand. Kom ons leer ons eie liefdestaal ken. 

Dink aan vyf maniere waarop jy kan ontspan. Vyf boeke wat jy al lankal wou lees. Vyf dinge waaroor jy graag sal wil lag. Dink aan vyf maniere om jouself te bederf.

Bou daardie mamma kragte weer op. Sit nuwe petrol in jou tenk. Mag elke mede-Mamma ñ wonderlike Februarie beleef. Mag dit die begin wees van baie goeie oomblikke.

Ek laat jul met die volgende stukkie inspirasie uit die oogpunt van ñ kind:
 
"Beste Mamma, 

Jý is my superheld. Ek weet ek sê dit nie gereeld nie. Daar is niemand soos my Mamma nie. Die dag as ek siek is weet ek dat Mamma my sal versorg. Die aande se hulp met huiswerk, die beplanning vir entrepeneursdae en skoolbyeenkomste. Daardie lekker gesonde kos in my kosblik waaroor ek soms kla. Mamma, ek weet jy kan dalk nie altyd daar wees vir my deur die dag nie, maar Mamma se harde werk help so baie dat ek kan deelneem aan sport en vir my sakgeldjie aan die einde van die maand. Mamma spandeer ure in die kombuis sodat ek kan smul aan my gunsteling geregte. Mamma, mamma, mamma... ek dink Mamma is al so moeg om die woord mamma te hoor, heeltyd, altyd, maar Mamma is nogsteeds altyd bly om my te sien. Dit laat my so belangrik voel en maak my hart so bly. Mamma, ystervrou, jy beteken die wêreld vir my. Mamma is dalk net een van die baie miljoene mammas in die hele wye wêreld, maar Mamma jý is een uit ñ miljoen vir my!"

Mamma-groete,
~TG.

Eerstes wat jy nooit sal vergeet nie!

Klein twee-been monstertjies met vrolike gesiggies bewoon die laaste maand my huis. Van vroegmôre wanneer die son se strale begin uitkom is dit jolig, want dit is mos vakansie-tyd! 

Vanoggend, met die begin van ʼn nuwe skooljaar, lê twee (verbeel ek my, maar hulle is skielik minder klein?) soetgesiggies heerlik en slaap (dis ʼn eerste!) en ek sukkel om hulle wakker te kry vir die eerste belewenis van skooljaar 2018!

Terwyl ek na al die mede-ouers se “terug-skool-toe” kiekies op Facebook kyk sit ek en dink aan al die eerstes op ons lewenspaaie. Eerste deurslaap, eerste kos, eerste skooldag, eerste werk, eerste liefde, eerste kind, die eerste plooie, grys hare en selfs ook die eerste afsterwe van ʼn geliefde...

Nuwe avonture. Lekker ervarings. Minder lekker ervarings. Leerskole van die lewe. 

Hoe geluk kan mens wees om eerstes te kan ervaar. Dis immers ʼn teken dat ons lewe en dat ons nog ʼn dag geskenk gekry het op aarde.

Ek wil eerste ervarings koester, maar veel meer wil ek elke dag as ʼn heel eerste sien in my lewe. Elke dag opnuut dankbaar wees vir dit wat wag. Soos ʼn klein twee-been monstertjie met ʼn vrolike gesiggie uitsien na die nuwe dag!

Hoeveel nuwe eerstes kan jy vir jouself skep vir 2018? Jy sal skoon verbaas wees as jy mooi daaroor nadink. 

Die tyd van die jaar wat nuwejaarsvoorneme amper weer begin afkoel kan ons regtig sit en dink oor wat ons met ons tyd, ons talente en met ons lewens gaan maak. Ek het eenkeer gelees dat ʼn nuwe gewoonte drie weke neem om gevestig te word in jou roetine. Dis wonderlike nuus. Dit beteken dat ons elke drie weke iets nuuts kan aanpak! 

Huffington Post het gedurende 2013 ʼn studie gedoen onder hul Facebook aanhangers oor hul gunsteling eerste ervarings. Die volgende is van die onderwerpe wat hul aanhangers se harte aangegryp het:

  • Die geboorte van jou kind

  • Om ʼn “roller coaster” te ry

  • Die eerste fietsrit sonder wieletjies

  • Om te kan ophou rook

  • Eerste half-marathon deelname

  • Om te trou

  • Avonture soos om te snorkel, valskerm te spring, ski ensovoorts.

Wat is op jou avontuurlys vir 2018?

Ek laat jou met die volgende gedagte: Haal af die bril wat jou ‘n blik gee van omstandighede, tekortkominge en vorige ondervindings. Maak jou gordel van selfvertroue styf vas en weet: dis 'n nuwe dag en ʼn nuwe week. Berus jouself in die wete dat met God by jou, is niks vir jou onmoontlik nie.

~TG.

Hoop vir 2018

Waar ons aan die begin van 2018 staan is meeste mense reeds vuur en vlam aan die gang met hul voorneme vir die nuwe jaar, ander bou voort op doelwitte waarmee hul lank reeds besig is. Daar is baie waarop ek wil voortbou en ook baie waarmee ek nuut wil begin. Tog, struikel ek al vir die eerste week van hierdie jaar met ʼn tema. Hoop.

Hoop is tog aansteeklik en selfs ook genesend lees ek een van vele artikels. Ek dink aan die mees positiewe mense wat ek ken, maar ek dink ook aan soveel mense wat nou, met die aanbreek van die nuwe jaar, met nuwe seer en uitdagings gekonfronteer word. Dit is my voorneme vir 2018: om vir daardie mense hoop te kan gee. ʼn Herlewing van hoop of selfs nuwe hoop. Waarom moet jy hoop hê vir die nuwe jaar?

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!” - Jeremia 29:11

God is waarlik in beheer. Soms is dit moeilik om te verstaan waarom sekere dinge in ons lewens gebeur. Veral seerkry en verlies. Wanneer jy ʼn geliefde verloor of hulle sien seerkry is dit normaal om te vra hoe kan God dit toelaat. Ons is mense. Dit is deel van wie ons is. Ek onthou die oggend wat ek verneem het van my pa se afsterwe. Ek het daar gelê en ek was te leeg om te voel, te seer om te voel. Alhoewel ek hom elke dag mis kan ek getuig van die krag van genesing wat God in my bewerkstellig. Die herlewing van dankbaarheid wat in my lewe plaasvind. Ten spyte van die seer kan ek met rustigheid getuig – ek weet God is in beheer. Altyd.

Jou storie… is nog nie klaar nie. Die verhaal van jou lewe is dalk tans by ʼn antiklimaks of ʼn doodloopstraat. Troos jouself in die feit dat jou verhaal nog nie klaar is nie. Ons lewens het seisoene. Die goeie nuus van seisoene is dat elke seisoen tot ʼn einde kom. Dit kan nie heeljaar winter wees nie, ook nie heeljaar somer nie. Die probleme en seer waarmee jy tans gekonfronteer word, sal binnekort plek maak vir die nuwe seisoen in jou lewe. Vertrou God met ʼn positief hart. Jou tydperk om te blom is reeds oppad!

Die ewige lewe wag. Ons as mens is nie eers in staat om te verstaan hoe fantasties God se heerlikheid gaan wees nie. Enige iets wat nou vir ons pyn of seerkry veroorsaak gaan binnekort heeltemal vergete wees. Ons gaan God se glorie ervaar wanneer ons by Hom aansluit. Daar is soveel sekerheid in die wete dat die ewige lewe vir ons wag.

God het nie moed verloor nie. Ons moet ook nie.

God glo in jou want Hy ken jou volledig. Hy ken jou naam. Hy weet waar jy woon. Jy is vir Hom belangrik. Elke behoefte van jou hart, elke droom – dit ken Hy ook. Ja, dis waar God ken jou slegste eienskappe, maar moenie vergeet nie – Hy ken ook jou beste eienskappe.

Geliefde van die Vader. Dit is seker die grootste en mooiste rede om nie hoop te verloor nie – die wete dat God jou liefhet. Hy het Sy seun vir jou gegee. God is lief vir jou.

Ons gebede word gehoor. Ons is beslis nie alleen nie!

Moet nooit ophou bid nie. Maak jouself deur gebed en danksegging aan die Vader bekend. Ons is nooit alleen nie. Daar waarheen ons vandag of môre moet gaan, daar is God reeds teenwoordig.

Daar is ander wat ook soos jy voel. (Reik uit)

Dit klink dalk onsensitief of selfs onmoontlik, maar daar is ander mense wat ook ervaar wat jy tans ervaar of dit reeds ervaar het. Wees wakker vir ander se seer en gebrokenheid. Maak nuwe vriende wat soos jy voel. Reik uit na ander. Ons dra mekaar. Ons gee mekaar nuwe hoop.

Liewe vriend of vriendin, my wens vir jou is dat daar ʼn vlam van hoop in jou menswees sal skyn. Mag 2018 vir jou ʼn jaar vol nuwe moontlikhede wees. 



~ TG.

Maandag 06 April 2020

Wie sal jou dra?

Kan nie die trane keer nie. Keer op keer hierdie laaste paar dae soos vele ander Suid-Afrikaners.

Ek is ñ Mamma. Ek ken daai gevoel as die skool bel jy moet jou kind kom haal... maar nie vir so iets nie... niemand is voorbereid vir so iets nie... ek kan uit 'n ouerhart dink die pyn wat Hoërskool Driehoek se ouers deurgaan, ouers wat hul geliefde, kosbare kinders verloor het, ander wat biddend langs hul kinders se hospitaalbeddens staan. Broers en susters wat nie geweet het dis hul laaste "goodbye" daardie oggend nie. Kinders, maats se pyn en hartseer. Onderwysers wat ook hierdie kinders liefhet soos hul eie. Drome lê aan skerwe. Vrees, twyfel. En tog, niemand kan eintlik werklik verstaan nie.

Die laaste paar dae het ons wonderwerke beleef, dade van selfloosheid, groot skok en ook ongeloof. Wat opvallend is, is hoe ñ land se mense bymekaarkom om te bid, te bemoedig en te help. 

Ek voel dis belangrik dat ek dit vandag moet sê, dis so belangrik dat ons hierdie besef. Kom, ons dra mekaar. Kom, nié net in krisistye nie, sommer net altyd, deur goeie en slegte, minder goeie en meer slegte, minder slegte en meer goeie tye. Kom, ons los die oordeel, die slim probeer wees, die lelike woorde, kritiek en jaloesie. Kom, Suid-Afrika. Kom. 

Dit het so maklik geraak om te bespreek, te deel op sosiale media, te beskinder, sleg te sê, maar dit het vir ons so moeilik geraak om werklik te bid vir mekaar. Om op te daag. So moeilik geraak om mekaar te aanvaar, net soos ons is. Ek praat nie van krisistye nie, ek praat van elke liewe normale dag.

Wanneer daar ñ krisis is, sien ons dit, hoe ons mekaar dra. Die waarheid is, nie een van ons weet hoeveel dae, ure of selfs minute ons in hierdie lewe oor het nie. Tog, raak ons so vasgevang met onbenullighede, dit roof soveel tyd. Tyd wat ons nie het nie. Tyd wat ons vir die vyand as geskenk gee. Hoe gereeld dra ons, ons geliefdes? Met hoeveel erns dra ons mense wat ons skaars ken? Is liefde net ñ roetine? Nee. Bestaan liefde uit roetine uit? Ja. Duisende klein roetines. Een ding van roetine - jy is daar, doen wat jy moet en doen dit op tyd. Kan ons in die roetine kom om liefde daagliks uit te deel en te sê, hey, ek ken jou dalk nie, maar, asseblief kan ek jou dra?

Ek deel graag hierdie verhaal (oorspronklike skrywer onbekend).

Dis ñ bedrywige oggend in die dokter se kamers, toe die ou oom, so iewers in sy tagtigs, instap om steke te laat uithaal. 

Hy noem dat hy haastig is, hy het stiptelik 9 uur ñ afspraak. Die suster neem sy bloeddruk en laat hom sit, wetende dat die dokter seker eers oor ñ uur beskikbaar sal wees.

Die oom kyk onrustig op sy horlosie. Omrede sy nie dadelik nog ñ pasiënt moet help nie, besluit die suster om gou die oom se wond te evalueer.

Die wond lyk goed en die suster kry die nodige voorraad by die dokter om die steke uit te haal en die wond weer toe te maak. Terwyl sy die wond versorg knoop sy ñ gesprek met die oom aan. "Het meneer ñ ander doktersafspraak vanoggend dat meneer so haastig is?" "Nee,"' antwoord die oom, "ek eet elke oggend 9 uur ontbyt saam my vrou by die tehuis. Sy is al ñ hele paar jaar daar, sy het Alzheimers-siekte."

Soos hul klaarmaak, vra die suster vir hom of sy vrou sal omgee as hy vanoggend ñ bietjie laat is. Sy gesig verstrek van hartseer, antwoord hy: "Sy weet nie meer wie ek is nie. Sy het my meer as vyf jaar laas herken." Verbaas vra die suster, waarom hy dan nou bly gaan elke oggend, as sy nie eers weet wie hy is nie. Glimlaggend druk hy die suster se hand en antwoord: "Sy mag my dalk nie meer ken nie, maar ek weet steeds wie sy is."

Jy voel dalk vandag verlore, vasgevang in jou eie ek, of dat jy nie meer vir God ken nie, of dit is dalk dat jy Hom al jare terug vergeet het. Wees gerus, Hy weet nogsteeds wie jy is. Hy weet nogsteeds waarvoor Hy jou lewe beplan het. 

Kom ons los die onbenullighede. Kom ons gebruik die kosbare tyd om uit te vind waarvoor ons lewe en hoe ons ander kan dra.

Kom Suid-Afrika. Wees daar.

3 Februarie 2019
~TG.

Featured post

Nie goed genoeg nie!

  Stelling A: "You were born... pre-approved" Glo jy dit?  Stelling B: "You were unsuccessful..." Jy kán nie, jy is nie ...